Afrika Kerswensn

Hierdie ware gebeurtenis het 'n paar jaar gelede plaasgevind ‘n week of so voor Kersfees.

Vas onder die indruk dat mens vroeggerig soggens die stadsraad se inbel sentrum moet bel om gou gehelp te word, bel ek toe net na sewe.

Soos met meeste inbel sentrums vandag moet mens selfs by jou stadsraad deesdae sorgvuldig luister na die instruksies van die vooraf opgeneemde stem. In my geval kies ek toe die opsie vir “meter readings” en hoor na verbasend min luie ‘n vriendelike stem waarvan die toonhoogte soos ‘n U-kurwe eers hoog begin met”

“City of Tshwane..”

dan daal met:

“Francina speaking..”

en dan weer styg met:

" “.. how can I help you?”

Aangenaam verras deur die vriendelike stem aan die anderkant besluit ek om, vir die duur van die gesprek ‘n punt daarvan te maak om haar soveel as moontlik op haar naam te noem. Ek trek toe dadelik los met:

“Good morning Francina, can I give you my account number?”

“Yes please sir” en ek lees dit vir haar af.

Na ’n sleutelbord getokkel vervolg Francina toe in haar volgehoue vriendelike trant met:

“O yes good morning Mr Blom, before we proceed I just need to ask you a few security questions. Please give your date of birth and your residential address.”

Sy klink tevrede met my antwoord en vervolg dan met:

"Thank you, so how can I help you sir?”

“I just want to give you my reading for electricity and water”

“OK, I do not need your reading for water because we have that already”

Ek het al van die meterlesers met ‘n sort sakrekenaar apparaat in die straat teëgekom terwyl hulle watermeter lesings neem maar wou nog altyd prober bevestig hoe gereeld en akkuraat hulle inligting die gewensde bestemming bereik. Ek vra to vir Francina:

“As a matter of interest, could you tell me what your reading for my water is?

Sy gee my ‘n water lesing wat byna dieselfde is as myne en my positiewe ervaring van my plaaslike owerheid se diens styg nog meer.

“OK can I give you my reading for electricity now?” vra ek.

“yes,when did you take it?”

“Yesterday at around ten” en ek lees die paar syfers vir haar af.

Weer ‘n getokkel op ‘n sleutelbord gevolg deur :

“OK are you ready to take down your reference for this call?” en sy lees dit af.

Op my “thank you” vra sy “ Is there anything else I can help you with sir?”

Daar is niks anders nie maar die oomblik is vir my so groot, ek soek ‘n rede om nog ‘n bietjie met hierdie vriendelike en hulpvaardige stem te praat. Ek vra toe maar:

“Am I the first caller for the day?”

“No sir, I have had many calls today, I was here from six this morning..”

… en my verbasing styg steeds.

“Does this mean I can call at six in the morning next time I want to give my readings?” wou ek verbaas weet.

“No sir, you can call us whenever you like, in the middle of the night, on public holidays, any time..”

Nou het ek alles gehoor en ek bevind my in ‘n tipe emosionele posisie van skuld en dat ek ‘n sort teenprestasie moet lewer in ruil vir haar puik diens. Ek sê toe:

“Francina..”

“Yes sir”

“I would like you to know that you have at least one satisfied Tshwane resident..”

“Thank you sir” sê sy,

maar ek gaan aan: “..and to show you how thankfull I am, I am going to play you a tune on my accordion”

Ek leun terug en trek my klein “Vrot orreltjie” nader. Dis ‘n skoendoos-grootte mengsel tussen ‘n konsertina en ‘n trekklaviertjie, twee oktawe maar met verskillende note vir druk en trek, net soos met ‘n bekfluitjie.

Dis ‘n erfstuk van my Oupa aan Moederskant uit die 1930’s en versier as ornament maar ook bron van vermaak my kantoor.

“Sorry Sir?” vra sy

“I have a musical instrument here and I am going to play you a song”

“What song sir?” wou sy weet

“Any song you like, just tell me which song and I will play it for you” kom my brawe antwoord.

Dit raak vir ‘n rukkie stil aan die anderkant en dan vervolg sy met ‘n amper fluister stem:

“There is a song that I like very much, it is by Mike and the Sambas, it is called

wachtsoslhempezollo”

of iets van die aard.

Ek het nie naastenby ‘n idee waarvan sy praat nie. Ek stel toe maar voor:

“That title is not familiar to me but perhaps, if you whistle it to me, I may pick it up and then I will play it for you..” sit ek my bravado voort.

Nog ‘n effense stilte gevolg deur ‘n nog sagter, nou gefluister:

“sorry Sir, we are not allowed to whistle here.”

En in my verbeelding sien ek haar oor haar skouer loer, waarskynlik na haar omringende kollegas in ‘n oop-plan oproepsentrum. My voorstel is toe:

“OK, let’s do it this way”

en ek sien myself vir ‘n oomblik as die stralende aanbieder van die “noot-vir-noot” TV program:

“I will play you something and you tell me what the name of the song is?”

“OK, I’m listening sir”

Nou gebeur twee dinge. Eerstens knyp ek die foon met my linkerskouer teen my linkeroor vas sodat ek twee hande vry het vir die trek en note druk van die Vrot-orreltjie, verkieslik so na as moontlik aan die foon sodat die klank helder kan deurkom.

Tweedens kies ek ‘n lied wat geen Suid-Afrikaner enigsins mis kan raai nie. Dis ‘n maklike lied, met net vier note wat ek onmoontlik nie verkeerd kan druk nie en ek het dit al baie vir mense gespeel. Hierdie slag egter, besluit ek om my alles te gee en die laaste noot so ‘n effense vibrato te wikkel vir ekstra effek.

Ek trek los en ek speel die eerste twee strofes van onse volkslied tot by ”malo phakamyiswe phondo lwayo”

maar die “yo.. aan die einde ” gee ek so ‘n ekstra bewe vir daardie perfekte vibrato en ek vra:

“Dit you get that?”

‘n Opgewonde Francina kan duidelik nie wag om my die antwoord te gee nie en in ‘n amper juigende stem kondig sy aan:

“Yes sir, with that one I can never make a mistake... It is…

‘We Wish you a Merry Cristmas’!… “

Om nie die goed-voel oomblik te bederf nie ag ek dit toe maar wys om haar nie reg te help nie en dis toe die einde van ons gesprek

Tòg sit dit my toe vir die eerste keer aan die peins oor wat die woorde van daardie tweede strofe nou eintlik beteken.

Ons almal weet dat die eerste strofe “God seën Afrika” is.

Op navraag hoor ek toe uit verskeie oorde dat die tweede strofe min of meer die volgende beteken: ” ons is sò geseënd dat ons met horings na bo gehef ons dankbaarheid toon”

Dankie Francina!

IJ Blom November 2015

IJ Blom Junie 2023

i