Iewers was daar 'n Volla

Soos op 29 November 2023

‘n Volla?, ja ook bekend as Volksie, Kewer of Beetle Ons praat hier van die oorspronklike Tipe 1 Ferdinant Porsche ontwerp wat tussen die jare 1938 tot 2003 vervaardig was.

Daar was meer as een-en-twintig en ‘n half miljoen eenhede gebou, 15 miljoen in verskeie Duitsland fabrieke en die res in lande soos België, Finland, Ierland, Brasillië, Mexico, Nieu zeeland, Australië, Nigerië, Fillipyne en natuurlik hier by ons in Uitenhage.

Ek onthou die Langpad krieket speletjie as volg:

Elke speler in die kar kies ‘n fabrikaat motor wat hom vyf lopies gaan besorg as dit verbykom maar niemand mag ‘n Volla kies nie.

Is dit jou kolf-beurt kry jy ‘n lopie vir elke kar wat verbykom, , vier vir ‘n bakkie, ses vir ‘n vragmotor en vyf lopies as jou soort kar, dalk ‘n Ford, Chev of Valiant verbykom

Niemand kon dit regkry om lank aan die kolf te bly nie want as daar ‘n Volla verbykom waai jou paaltjies of word jy uitgevang volgens die pad-krieket spelreëls

Die Volla was eenvoudig vir dekades die mees algemene kar op ons paaie.

Elkeen van ons. kan ‘n lewens-venster herroep toe ‘n Volla baie prominent was, waar daardie knap ruimte tussen die agterste sitplek en die agtervenster die verbeelding aangegryp het as moontlike kinder-slaapplek of luidspreker-kas.

Was dit net ek wat soms die destydse “Junk Mail” koerantjie gereeld geraadpleeg het om te sien hoeveel VW Kewers te koop angebied is?

Sò ken elkeen van ons vandag nog iemand wie steeds ‘n Volla besit, is die kanse goed dat ons ‘n matriek-afskeid kan onthou met een of meer Vollas in die optog.

Dan was daar ook troues waar die geliefde Volla as gas onthaal toe gebring is en vir die “wegry fotos” moes regstaan.

En wat van die spesiale naam - amper soos mens ‘n naam het vir jou troeteldiere - vir Vollas? Ek herroep name soos Fillis,Ivy, Gretel,Daizy, Fanie, Vla-Ponie (‘n geel Volla), Louise (want daar staan 1600L agter op die enjinkap).

en ja, wie onthou nog die geliefde Volla met die naam “Herbie”wat die hoof-rol in ses Disney flieks gespeel het? Herbie was 'n 1963 model Volla met buitengewoon menslike eienskappe, ‘n eie persoonlikheid en self-bestuur vermoëns. Dit was baie jare voor die “Night Rider” Televisie reeks waarin ‘n moderne swart Pontiac Trans-Am met die naam “Kitt” ook homself kon bestuur, praat en selfs kort afstande vlieg.

Maar Herbie was in ‘n ander klas,’n skynbaar onbeduidende tjorrie wat telkens met verbysterende vernuf sy eienaarJim Douglas se lewe ten goede bewimpel.

Die flieks was: Herbie the Love Bug,Herbie rides again, Herbie goes to Monte Carlo, Herbie goes banannas, Herbie fully loaded. In die wedren soos uitgebeeld in die Monte Carlo fliek breek hierdie beroemde Volla (deelnemer nommer 52) in twee, die voorste deel kom eerste oor die wenstreep en die agterste deel derde.

Die gewildheid van hierdie flieks het enige tyd die gegonsery oor reekse soos “Pink Panther”, “Double o seven”, ”Trinity” of ander ”westerns” ge-ewenaar.

Wat is dit omtrent hierdie tydlose ryding wat vandag steeds koppe laat draai, al voldoen dit nie naastenby aan hedendaagse veiligheid standaarde en enjin effektiwiteit nie? Watter rol speel die bitter-soet gedagte dat die ontstaan van Vollas te dankie is aan Adolf Hitler? Na bewering het hy die idee van ‘n bekostigbare ”Wagen vir die Volk” bevorder.

Werklik klassiek:

Watter ander voertuig het sy basiese vorm, voorkoms en unieke geur van die binne-kajuit vir soveel dekades behou? Net klein kosmetiese veranderings soos vorm van ligte, vorm en voorkoms van stuurwiel, rat-hefboom, bekleedsel, soort buffers en soort ruite is voorbeelde.

Dan was daar ook die modelle se interessante name; die Zwitter, gemaak tussen Oktober 1952 en Maart 1953 met die gesplete agterruit, die 1969 “Moon Bug” wat saamgeval het met die eerste maanlanding en kort daarna die “Jean Bug” met denim vir bekleedsel.

Ek herroep ook die “Super Bug” met sy uitdagende swart lyne oor die dak en flanke.

Strelend op die oog:

Die bakwerk en algemene afwerking voldoen aan die sogenaamde “sag op die oog” konsep met niks reguit of hoekig, eerder geboë of ovaal met baie chroom, selfs op die wiel-doppe, opsionele wiel-versierders, uitlaat-pype, deur-handvatsels en buffers.

Elegante ontwerp:

Geen ander motor het so ‘n vindingryke windskerm ruit-spuiter sonder pomp nie. Drukking vir die ruit-spuiter kom van die noodwiel voor in die bagasieruim, ‘n skitterende dubbel-doelige oplossing vir gereelde banddruk-monitering.

Lugverkoelde “boxer” enjin:

Waar meeste ander voertuie se enjins voor sit met silinders langs mekaar regop of in V-formasie; sit die Volla se enjin agter met twee silinders aan weerskante waarvan die suiers soos die vuiste van twee boksers na mekaar toe beweeg. Op die manier lê die gewig van die enjin ook laer in die bakwerk, 'n bekende faktor wat bydra tot stabiliteit en padhou-vermoë.

Waar ander enjins water benodig vir afkoeling het Vollas lug inlaatgleuwe onder en weerskante van die agterruit wat wind-sleur gebruik om die enjin se olie-koeler te ventileer. Warm lug uit die enjin bring op koue dae ’n effektiewe snoesige vertroosting deur bloot hefbome weerskante van die handrem te verstel soos verlang.

Op warm somersdae , darenteen,is die oop-kantel van die voorste klein deurvenstertjies so effektief soos ‘n sterk waaier.

Maklik en eenvoudig om aan te werk:

Met min tegniese kennis kon meeste Volla entoesiaste eenvoudige onderhoud soos olie- en filtervervanging, ontsteking tydinstelling, skokbreker en remskoenvervanging self tuis doen.

Selfs om die hele enjin uit te haal was net een helper, ‘n wieletjie domkrag en ‘n nommer dertien plat moer-sleutel nodig.

Daar is baie stories oor die hoeveelheid mense wat in ‘n Volla vervoer kan word. Self herroep ek ‘n rit van Pretoria na Pelgrimsrus vir ‘n stap-toer, ons was vier volwassenes met gelaaide stapsakke in ’nbottelgroen Volla 1500.

Iemand vertel my van ‘n gesin van sewe wat uit Zambië na Bloemfontein gereis het, Pa en Ma voor, baba in ‘n mandjie wat hang aan die handvatsel bokant die paneelkissie, drie kinders op agterste sitplek en nog een in die holte heel agter. Bagasie vir hierdie rit was alles in sakke om spasie in die bagasieruim voor optimaal te benut. Die gesin het nie van daardie pasgemaakte Volla tasse wat presies in die bagasieruim pas gehad nie.

Volla’s met ‘n dakrak, ekstra rak of rolstoelrak op die agterste buffer is nie ongewoon nie en ek weet van ten minste een Volla met ‘n sleepstang.

In die vroeg sewentigs is vervaardiging van Vollas hier by ons in Uitenhage gestaak om plek te maak vir die waterverkoelde voor-enjin voorwiel-aangedrewe Golf(Amptelike naam Golf MK 1) maar Volla’s was steeds vir etlike jare daarna in Suid-Amerika vervaardig

Onderdele en herboude enjins was tot met die draai van die eeu beskikbaar en heel bekostigbaar maar deesdae kos dit inskakeling by ‘n netwerk van Volla entoesiaste om toegang tot onderdele en ervare Kewer werktuigkundiges te verseker.

Herleef die gevoel van ‘n Volla deur te klik op die skakel hieronder. Dis die klank van ‘n sestien honderd 1974 model wat aanskakel, tru en dan wegtrek. Daar is ook twee klank-skakels na onlangse opnames van Volkswagen kombi’s wat omskep is inmobiele kiosks vir draairoomys smouse.

IJ Blom Lente 2023

Ander wiele en langpad stories: Nelspruit se Wonderboom Haak hom Blokkies Postuur of waarheids uur Springrat