Van Rhynsdorp Voggies
Oor politiek, pypleidings en plekname
Die besluit oor waar ’n nedersetting of dorpie tot stand moet kom het in die verlede grootliks berus op beskikbaarheid van water.
Baie dorpe het daarom ook name wat hierna verwys. Dink maar aan die name van dorpe waarin die woorde water, rivier, spruit, stroom, fontein, meer, pan of dam voorkom:
Vaalwater, Hartswater, Graafwater, Puts onder water,
Touwsrivier, Witrivier,Groot- en Klein Brakrivier,
Bronkhorstspruit, Naboomspruit, Nelspruit, Hoedspruit
Potchefstroom,Nylstroom, Broederstroom, Dullstroom
Springs,De Aar ,Bloemfontein , Stilfontein,Matjiesfontein,
Brakpan, Baberspan,Chrissiesmeer, Swellendam,
Ons land het dan ook onlangs heelwat gevalle gehad waar woongebiede se watervoorraad ernstig verminder of heeltemal opdroog. Dink maar aan Kaapstad en Beaufort Wes ‘n paar jaar gelede, meer onlangs die Oos Kaap en dan die knellende droogte wat omtrent die hele Noord-Kaap en sentraal Karoo die afgelop dekade teister.
In hierdie semi-woestyn gebiede begin Selfs grondwater bronne mettertyd opdroog as goeie reëns vir jare wegbly.
Vanweë lae reënval is Ook die Namakwaland bekend vir sy afhanklikheid van grondwater.
‘n Boorling van die Namakwalandse dorpie Van Rhynsdorp vertel onlangs aan my die ware storie van ‘n tweestryd oor water gedurende die sewentiger jare in dìe geweste.
Alles het gegaan oor die idee om ‘n pypleiding teen aansienlike koste aan te lê na die naburige Vredendal, vanwaar goeie reënwater (nie brak nie) op sy beurt reedsbeskikbaar is vanaf die Clanwilliam dam.
Ten tyde van hierdie oorweging was Van Rhynsdorp meestal van boorgatwater, so brak soos mens kan kry,(ook bekend as "harde water") afhanklik.
Die water voorsieningsprentjie by meeste huishoudings het daarom bestaan uit boorgat met ‘n windpomp, tenk (op stallasie vir hoogte en druk) en die kenmerkende ronde sement dam. Laasgenoemde vang, veral op besonder winderige dae, die oorloop vanaf die tenk op en dien as reservoir vir natlei en soms selfs vir afkoel.
Die blote gedagte dat koste aangegaan word vir ‘n pypleiding was vir diegene wat tevrede was met boorgat brakwater, heeltemal onnodig en uitspattig.
“ons kom nog altyd goed genoeg klaar met ons water soos dit is..”
Was die opinie van die, seker meer konserwatiewe, handhawers van die status-kwo, ook alom in die dorp bekend as die “brak-gatte”
Die meer verligte groep, dalk meer strategies en visionêr, het geglo enige uitgawes ten opsigte van ‘n pypleiding is ‘n goeie belegging en kan vorentoe net voordele vir die gemeenskap inhou.
“Dink net hoe wonderlik dit sal wees as ons toegang het tot vars(sagte) water wat darem jou seep ‘n bietjie kan laat skuim en nie aldag jou ketel laat aanpak nie.”
.. was onder andere die siening van hierdie groep, ook bekend as die “vars gatte”.
Die onder burgermeester was ‘n uitgesproke “Brak-gat” en het met die politieke stemwerwery in aanloop tot die munisipale verkiesing te voet inwoners van deur tot deur besoek in ‘n poging om steun te kry vir sy oortuiging. Trouens, hy was sò ‘n doring in die vlees van die “Vars-gatte” dat iemand by geleentheid noem dat daar maklik van hom onslae geraak kan word as ’n “per abuis” raakry hom elimineer tydens een van sy stemwerf straat-stappies.
Die geskiedenis sou wys dat rede tòg soms seëvier, want die meerderheid stemme kom toe uit die geledere van die “Vars-gatte” en die pypleiding word aangelê.
Nou, seker vyf dekades later, het die ondergrondse watertafel in Van Rhynsdorp met soveel meters gesak dat meeste boorgate heeltemal opgedroog het. Danksy die “vars gatte” van wel-eer is die dorp dus ‘ ernstige krisis gespaar en sal eersdaags ook voordeel trek uit die groter kapasiteit van die Clanwilliam dam waarvan die wal se verhoging tans in konstruksie is.
Sien ook hoe geskikte water ‘n rol gespeel het in die besluit oor op watter plaas die hedendaagse Pietersburg/Polokwane moes ontstaan by
IJ Blom , langste dag 2020