Soos beskuit speel melktert ‘n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse kultuur. Afhangende van die soort, is dit potensieël een van die vinnigste en maklikste bederfies om voor te berei met bestanddele wat in meeste huise voorkom.
Hoewel geen amptelike standard bestaan vir die beoordeling van melktert nie, het die fynproewer nogtans ‘n idee van hoe die smaak,kleur, tekstuur, styfheid en algehele oog-toeknip lekkerte jou behoort te bekoor. So is ek dikwels aan die ontvankant van ’n proeseltjie en is telkens so beïndruk dat dit hier op gepaste wyse gedokumenteer moet word.
My neerskryf pogings het my op ‘n verrassende ontdekkingsreis in die wêreld van melktert geneem. ‘n Reis wat my geleer het dat enige melktert waarskynlik sal verskyn op ‘n kontinuum van (heel links) kits melktert - of die sogenaamde yskasweergawe - na (heel regs) klassiek of oorspronklik. Laasgenoemde behels byvoorbeeld dat mens eers die kors volgens die sogenaamde "blinde metode" bak en later die vulsel of “pap” byvoeg. Met die "blinde metode" gebruik mens bone om gewig te verleen bo-op waspapier wat die binnekant van die kors uitvoer. Die waspapier word ook vooraf geprik met 'n vurk sodat dit nie oplig of blasies maak tydens die bakproses nie.
Ek het ook geleer dat 27 Februarie die nasionale melktert dag is en dat melktert purist grootliks ooreenstem oor die eienskappe van ‘n waarlik klassieke melktert.
Op nasionale melktert dag van 2024 het die program "Op en wakker" op RSG 'n onderhoud met sjef en melktertkenner, Mari-Louis Guy uitgesaai.
Sy en haar broer, Callie Maritz, het 'n boek oor melkterte geskryf, DIE SUID-AFRIKAANSE MELKTERT-VERSAMELING. Die boek bevat tagtig melktert resepte. Luister na RSG onderhoud
Kom ek begin dus links op die continuum met die nederige, maar tog lekker kitsmelktert.
Bestanddele:
Een Pak Tennisbeskuitjies Een Blik kondensmelk Drie Blikkies water
Drie eiers vier Eetlepels (opgehoop) Maizena Een Teelepel vanilla Kwart van 'n 500gram margarien
Metode:
Gooi al die kondensmelk in ‘n pot en hervul die lee blikkie drie maal met water wat na dieselfde pot gaan.
Voeg die drie eiers, margarien en vanilla by
Meng tot gesmelt Voeg die vier opgehoopte Eetlepels Maizena by en roer tot die mengsel dikker word
Klits alle klontjies uit
Bedek die bodem van ‘n vlak bak met die beskuitjies en strooi die mengsel daaroor Plaas in yskas om te set voor opdiening
Meer regs op die melktert kontinuum kry mens bogenoemde resep met kaneel en selfs fla toevoegings wat die smaak, kleur en styfheid meer laat neig na die klassieke melktert.
Hier volg ‘n ware verhaal oor ‘n melktert se buitengewone reis na ‘n kerkbasaar bestemming soos opgeteken deur Faan Venter van Barberton:
"Tante Souf was gedurende die laat negentienhonderds van die Waterfal-Boven omgewing in Mpumalanga en een van die legendariese melktert fyngebak chefs wie nog op haar koolstoof gebak het.
Soos die gebruik was by al die boere destyds, het hulle hoëveld plase gehad en wintersveld in ‘n ander distrik, soms meer as ‘n honderd kilometer daarvandaan.
Die kinders se skole, die besighede en die kerk was natuurlik net naby die hoëveldgrond, ’n soms problematiese toedrag van sake. Destyds het die vrouens ‘n kerkalmanak agter die badkamerdeur gehad , waarop hulle sawens kyk wie môre verjaar en ook wat môre by die kerk gebeur. So kon hulle dan onthou vir wie en waarvoor daar gebid moet word.
In die tyd toe die Tannie in haar Winterveld opstal(sowat 100km weg van haar kerk) was, lees sy die aand dat dit die volgende dag koekverkoping is en dat die susters die gebak wat hulle belowe het, om elfuur op Tommie Fourie se winkelstoep in Machadodorp moet kom neersit. Effens moeilik vir ‘n vrou wie ‘n melktert belowe het, geen vervoer het nie en boonop ’n vrou van haar woord is. Hoe nou gemaak?
Sy besluit om die volgende oggend vroeg op te staan en die melktert te bak, miskien bring die tyd ‘n oplossing. Hier dan die plan wat sy so tydens die gebakkery mee vorendag gekom het:
Sy het die gebak netjies, so in die pan, in ‘n doek toegebind, vir haar getroue bediende verduidelik wat om te doen en ook ‘n begeleidende brief geskryf. Hy moes per fiets haas na Elandshoek stasie, sewe myl verder, en alles vir die stasievoorman gee.
Hy, die stasievoorman, moes dit dan oordra aan ‘n stoomtreindrywer wie dit verder sou neem nadat hy die instruksies gelees het. Die stasievoorman het sy opdrag uitgevoer en so ook die treindrywer. Maar op Waterval Boven draai die drywer terug, iets wat die tannie nie voorsien het nie.
Gelukkig was die drywer seker ook ‘n Christen en hy gee die tert aan nog ’n ander drywer wat verder gaan. Hierdie ou kom op Machado, waar hy ‘n ( seker ongeskeduleerde?) stop moes maak. Hy gee die tert en die brief aan die stasievoorman, wie sy kop skud van verbasing en sy bode vra om die pakkie af te dra na Tommie Fourie se winkelstoep.
Om vyf minute voor elf word die tert neergesit, betyds vir die basaar waar dit vinnig verkoop vir drie sjielings..
Hierdie melktert het deur die hande van ten minste sewe mense, oor meer as honderd kilometer, per fiets, per hand en in veskeie warm stoomlokomotief deur twee treintonnels gereis om betyds by die bestemming aan te kom. Dit is vir my ‘n voorbeeld van geloof, deursettingsvermoë, betroubaarheid en nog ‘n hele aantal ander goeie eienskappe waaraan ek nou nie eers kan dink nie."
Einde van FaanVenter se storie
IJ Blom Herfs 2024
Nog "innerlike versterking" stories: Is Samoosa Afrikana? Drink likkewane aan koeie se spene? Oor Beskuit?