Gewoon of iets met "byt"?
Driehoek: Knoop of Strikkie?
Wie is in vandag se tyd mense wie jy as lastig ervaar?
Is dit smouse of bedelaars wat via jou deurklokkie of deur jou syvenster by die verkeerslig om jou aandag meeding?
Wat van die geelbaadjie parkeeraanwyser by die derde of vierde winkelsentrum wat jy vandag besoek? Nog ’n Franssprekende vlugteling iewers uit midde-Afrika, onbewus dat jy reeds ‘n paar van sy streek-gennote befooi het?
Miskien beleef sommige selfs ‘n samosa verkoper by die ingang van ‘n boumateriaal winkel as lastig, maar hoe kan jy as hy jou vriendelik groet in Afrikaans met die woorde
“proe net een, my vrou Shirly het dit vanoggend gebak, hulle is kraakvars .. kan ek vir jou ‘n gewone “mild” een gee of iets met bietjie byt?”
“Jammer, ek het nie nou kontant by my nie maar…” wil jy verweer maar sy:
“Moenie worry nie man, proe net, Meneer kan later terugkom as jy kontant by jou het en dalk ‘n pakkie wil koop, hulle is net R45 vir 6 maar vir jou sal ek dit gee vir R60 ‘n dosyn…” ...Bring jou tot ander insigte.
Hierdie samoesa verkoper, net soos handgemaakte grasbesem verkopers, ervaar ek nie as lastig nie. nee, eintlik ‘n kleurvolle en interessante toevoeging tot die dag.
Onderweg na die hardeware winkel bewapen ek my voortaan vooraf met kontant want ek weet ‘n glimlag en ‘n gratis proe samoesa wag op my by die ingang.
“Ek wil graag vandag ‘n pakkie by jou koop Sativan..” kondig ek aan.
“Dankie meneer maar hier is in elk geval een vir die proe. Wil Meneer die gewone een hê of iets met bietjie byt?”
“Ek sal ’n pakkie van elk neem dankie” sê ek en ek wonder of daar regtig ‘n verskil is.
“Onthou nou Meneer,” en hy plaas my vingers op die toemaakplek van elke pakkie..
“..die geknoopte pakkie is dìe met die byt en die gestrikte pakkie is die gewones… dankie vir die ondersteuning..”
En ja, daar is wel ‘n verskil. Volgende keer gaan ek vra vir geknoopte pakkies en as hy net gestrikte pakkies het koop ek dit in elk geval want hulle kraak net so lekker, al ontbreek die byt.
Sativan verkoop al vir jare samoesas by die ingang van die hardeware winkel in Rosslynstraat Waterglen Pretoria. Onder sy keppie, met sy koelhouer langs hom op die grond vorm hy ‘n gerusstellende prentjie van doodgewoonheid, eenvoud en eerlike verskilmakende menswees.
IJ Blom Winter 2021
Slot, stut, starter en reverse:
Van bekendes tot bemindes: