Oor bure, speelplek,speelgoed en spore
Van drie tot vyf en weer terug
In ons straatblok was daar 5 erwe waarvan ons s’n die middelste was met adres Heuwelstraat 3 .
Later het dit Heuwelstraat 5 geword, seker omdat Oom Coenie langsaan sy erf onderverdeel het om ‘n tweede huis daarop te bou.
Waar sy erf aan ons s’n gegrens het was daar ‘n netjies gesnoide heining en hy het self die groot grasperk in stand gehou aan die stuur van ‘n Forest Gump-tipe rondry grassnyer waarmee hy kringend links en regs geleun het onder sy sonhoed.
Seker in die hoop dat ek ook eendag die kans sal kry om só ‘n lekker snywerkie te doen vra ek by geleentheid vir Pa hoekom Oom Coenie se gras so mooi is en ons s’n is ietwat onversorg en weerbarstig.
Sy antwoord was bloot:
“My seun, Oom Coenie laat sy gras groei soos hy wil, ons laat ons gras groei soos hulle wil.”
Die lang oprit na Oom Coenie se groot beeskraal-tipe swaaihek het gemaak dat ek dikwels, druk aan’t speel buite, die aantog van sy Zephyr 6 kon hoor. Dan spaander ek hek toe om dit vir hom oop te maak, meestal vir ‘n fooitjie van 5 sent as vergoeding en dan maak ek dit weer agter hom toe .
In daardie dae was fyf sent voldoende vir ‘n stoom-warm pakkie slap tjips by die Portugees se kafee, of ‘n crunchie of dalk ’n handvol Wilson toffies of chappies kougom. Selfs ‘n oproep vanaf ‘n telefoonhokkie of luister na ‘n liedjie op die president kafee se juke-box was moontlik met ‘n vyf sent muntstuk.
Later het Oom Coenie ‘n splinternuwe lig-blou Valiant Regal as tweede motor bekom waarmee hy skynbaar net Sondae gery het. Hekdiens vir hierdie ryding het my ‘n 10c muntstuk besorg en eenkeer selfs 20c.
Ons voorstoep het die hele breedte van die huis beslaan En, saam met die drie stoeptrappies was dit blinkrooi onder die sunbeam vloerpolitoer. Reg in die middle was die voordeur met ewe groot slaapkamers aan weerskante.
Hierdie slaapkamers het van daardie ou hollandse opskuif-raam vensters met ingeboude balanseergewigte in die kosyn gehad. As mens op die stoep stan en een van die vensters se onderste raam opskuif, vorm die vensterbank ‘n sort nouerige toonbank waaroor iemand buite lekker kon kuier met iemand binne. As kinders het ons dan ook dikwels winkel-winkel gespeel by my venster, met denkbeeldige voorvinger-en-duim geld betaal en bak-hand denkbeeldige goedere in ontvangs geneem.
Die venster aan die anderkant van die voordeur was Pa-hulle s’n en kort kuiertjies of raad-vra van Oom Willem , die buurman twee huise verder straat-op het dikwels sommer ook so oor daardie venster-toonbank geskied.
Een laat-middag hoor ek weer ‘n gegroetery op die stoep en van die gesprek lei ek af dit gaan oor stemwerwery vir oom ApieKoekemoer as moontlike nuwe burgermeester. Oom willem, met n skor myntering stem, sou beweer dat as "Apie burgermeesterword het hy belowe dat al die stofstrate geteer sal word en die ewige gestryery oor leibeurte vir eens en altyd opgelos sal word”.
Hier moet ek nou eers bietjie stiljou en vertel van die leibeurte:
Die wonder van leivore
as onderdorp bewoners was meeste erwe geseënd met ‘n lieflike kabbelende leivoortjie, gevoed deur die groot voor wat al langs die hoofstraat vanuit die schoonspruit oog gestu het. Met jou leibeurt kon jy water uit die klein voortjie voor jou erf afkeer na jou groenteboord of vrugtelaning. As kind het hierdie voortjies vir ure se pret en speel gesorg, bootresies met blare of stokkies as denkbeeldige bote, of paddas en krappe vang.
Van paddas kon ons leer van flitsend-vinnige papaja-pit klein padavissies, later gryserig met langer stert en nog later met poot-en-stert amper paddawees. Dan krimp die stert weg en siedaar, ‘n padda!
Die gewone skurwe paddas kon mens maklik vang. Die swart plat-anna’s, darenteen, was ratser, seepglad, gespierd en baie moeiliker om te houvas as jy hom gevang kry.
Krappe was dikwels onder die beskutting van die bruggies en, ten spyte van hulle behoedsame steeltjies-ogies en dreigende knypers was hulle ook maklik om te vang. Soms was dit ‘n mamma met half-oop buidel waaruit bleek mieragtige krap babetjies uitgepeuel het.
Leivore het in die grootmenswêreld ’n ander betekenis gehad en só het daar by meer as een geleentheid ernstige dispute ontstaan as gevolg van diegene wat na bewering nie by hulle leibeurt hou nie.
Einste Oom Willem het leibeurte as een van die krapperighede gehad teen die bure tussen ons en hom en dit het selfs tot bewerings geleidat Vleis, die oudste seun van ons van Tontder bure, as deel van ‘n bure vete, oom willem sou Dddddddddddddddddddddddddddreig met n ketting.
En so hoor Ek een nag laat Weer oom willem se bulderstem by pa se venster wat versoek dat pa hom moet vergesel na ons AGTERERF, WANT SIEN, Vleis is besig om daar te skuil nadat hy oor drie heinings gespring het om te ontsnap van Oom Willem se agtervolging. Oom Willem se ernstige versoek aan Pa was:
”jy is besig om ’n misdadiger te huisves as jy nie nou saam met my kom dat ons hom kan Uitsnuffel nie”
Die aanhoudende vete tussen ons twee stroomop bure het later daartoe gelei dat Oom Willem 'n ekstra hoog hout heining opgerig het tussen hom en die Van Tonders.
Drie's en vyf's van rugby:
My lojaliteit, darenteen, was by die van Tonders want die ander drie seuns, (die sesvoet twee Shorty, sproetgesig rooi-kop Kêrrie en ‘n lig van gelaat Whitie) was gereeld my dryfings spanmaats met ons straat as speelveld.
Twee aan ‘n kant skop ons die bal so hoog en ver as moontlik om veld te wen en jou opponente terug te prober dryf.‘n Hoë skop kan reg bo-oor jou opponent boog maar jy loop die risiko dat ‘n rates opponent dalk die bal inhardloop en met ‘n skoonvang twintig treë of so verdien en dan moet jou span terugsak.
Ons bal was ‘n leë sorgumbier houer van deursigtige plastiek met die woorde “Mooirivier bier” tussen vertikale versterkriffels. Die bek of opening van die houer was net groot genoeg vir die instop van ‘n uitgediende fiets binneband. Dit het dus ‘n silindriese vorm gehad, amper soos ‘n vrugte inmaakbottel , was net die regte gewig , het selfs ‘n bietjie bons gehad en kon lekker ver rol as dit reg land.
As ander buurseuns soms kon saamspeel is ons partymaal blootgestel aan ‘n regte leer rugbybal, spieëlblink gepoleer, kliphard gepomp en met ‘n amper musicale ”tink”klank wat resoneer as jy dit skop. Dit het ook baie verder getrek as ons bierhouer bal en het gelei tot meer gereëlde heining klim of betreding toestemming vra om dit te herwin.
Winter Saterdag middae het ek saam met die van Tonders na rugbywedstryde op krakende kortgolfradio geluister en die spel met spelrs soos Mornè du Plessis, Sid Nomes en Frik du Preez in ons verbeelding gevolg, danksy legendariese Gerhard Viviers se kommentaar.
‘n Drie was toe nog ‘n drie, n jy het verfyf as die skop pale toe na ‘n drie suksesvol was. Die vyf rugby entosiaste op die Van Tonders se stoep was gewoonlik ek, my drie dryfingsmaats en hulle Oupa met sy hoed en horseshoe twak kromsteelpyp. Die ander drie het hulle andersins vermaak. Die Oom en Vleis was meestal tydens rugby in die agterplaas aan’t torring aan karre terwyl Tannie Shiela agter haar naaldwerktafel bebril en lipskuiwend die materiaalbeweging onder die voetjie van haar singer naaimasjien stuur.
Tog net 'n eie ryding:
Die oudste seun, Vleis, na wie vlugtig hierbo verwys is, het waarskynlik sy bynaam gekry omdat hy frisserig gebou was en nogal ‘n intimiderende, amper dreigende bak-arm, kop-vorentoe liggamshouding gehad het. Die boonste drie knope van sy hemp was altyd los en bokant sy raafswart borshare was ‘n sort riem en soms ‘n ketting om sy nek sigbaar. Hy het ‘n lang kuif gehad wat gereeld met ‘n handbeweging eenkant toe bewimpel is.
Lynreg teen die opinie van sy moeder, het hierdie Vleis sy ouers duidelik laat verstaan dat hy smag na 'n eie motorfiets. Tannie Shiela wou daarvan niks hoor nie:
“’n scooter is tè gevaarlik, wag liewer tot jou Pa iewers ‘n klein tweedehandse karretjie teen ‘n goeie prys kry en regmaak vir jou.” was haar mening.
Die Tannie se idee was heel haalbaar want die Oom was ‘n begaafde werktuigkundige by die motorhandel van einste oom Apie, die aspirant politikus.
Uitstel van bevrediging was, helaas, nie een van Vleis se sterk eienskappe nie en hy het sy drang om met iets petrolaangedrewe rond te beweeg op verskeie maniere prober bevredig. Sy eerste poging was om sy trapfiets in ‘n motorfiets te prober omskep deur die toevoeging van ‘n grassnyer enjin , gemonteer op die drarak (of carrier soos ons dit genome het).
Die grassnyer lem is vervang met ‘n grassnyerwiel wat soos ‘n rat druk teen die buiteband van die fietsse agterwiel. ‘n vas-klamp stallasie agter die fiets se saal het ‘n vierkantige olieblik regop gehou wat gedien het as petroltenk.
Hierdie kontrepsie het vir baie pret gesorg as ek en sy jonger boeties male sonder tal prober het om dit aan die ry te kry met ‘n “running start”.
Ek vermoed, as ek nou terugdink, dat die ietwat ongunstige ratverhouding tussen die klein-omtrek grassnyerwiel teen die groot-omtrek fietswiel meer wringkrag as spoed kon lewer en dat dit die rede was waarom Vleis die idee uiteindelik laat vaar het. Tóg glo ek hy het waardevolle praktiese fisika lesse in die proses geleer wat ek van mening is hom vorentoe nog baie sou bemagtig.
Vleis se tweede poging om aan’t stuur van iets kragtig te kom was een middag toe hy, in afwesigheid van sy ouers, die gesinsmotor, ‘n donkergroen Rambler, sonder toestemming vir ‘n “spin” gevat het.
Met tè min motorbestuur ondervinding om die kragtige 6 silinder gevaarte se spoed en momentum onder beheer te hou, maak hy dit toe nie om ‘n stofstraat draai nie en kom rampspoedig tot stilstand teen die dik stam van ‘n wilgerboom.
Ons het later gehoor die onderstel het onherstelbaar geknak en dat die ryding moontlik gered kanword as daar dalk by ‘n “scrap yard” ’n soortgelyke vervangende rambler is wat net bakwerk skade het en waarvan die onderstel nog ongeskonde is.
Vanuit ons agtererf kon ek eerstehands hierdie proses van oorplanting gadeslaan. Dit was dan ook ‘n maandagmiddag,wasdag, met amper droog klere op die draad toe ‘n erg gekneusde ruitlose rambler voorwiele-in-die-lug soos ‘n half-dood vis aan die hoek of haak van ‘n insleepvoertuig sorg vir opwinding in die buur-erf.
Niemand het egter rekening gehou met die hoogte van die insleepvoertuig se stang of kabelgids nie. Terwyl almal betrokke uitsluitlik gefokus het op die optimale plasing van die "skenkervoertuig” was ek waarskynlik die enigste wie sien hoe die staal kabelgids se toring Tannie Shiela se wasgoedlyn begin winkelhaak en toe, voor enigiemand kon keer, dit met ‘n amper kitaarsnaar breek klank laat losskiet.
Al die half-nat kledingstukke plof soos domino’s een na die ander in die stof en word tydelik opgeruim en eenkant opgestapel deur die Oom en sy helprers sodat hulle kan voortgaan met die ”meer "belangrike taak” voorhande.
Werktuigkundiges gebruik ‘n baie lae trollie waarop gelê kan word en dan met gemak onder ‘n opgeligte voertuig ingegly kan word. Teen die tyd toe Tannie Shiela in die agterdeur verskyn,die rooi-stof besmeerde hoop wasgoed eenkant sien,verander haar normale kiertsregop postuur na ’n dreigende hand-in-die-sy houding en, met ‘n paar groot treë bereik sy die Oom se broekspype en skoene waar dit onder die Rambler uitsteek. Met een beweging pluk sy hom, trollie en al, nog met ‘n spanner in die hand- tot verskrikte regopstaan. Toe volg ‘n feitlik ononderbroke stroom van krasbewoorde aantygings, geaksentueer met haar dreigende voorvingerwysings na die stukkende wasgoed draad krullebol en die jammerlike hoop stofbruin wasgoed.
Iemand het eenkeer gesê:
“Daar’s nie iets soos kwaai vrouens nie, net bang mans!”
Vleis se derde kans om ‘n eie ryding te hê het haalbaar begin lyk die middag toe die Oom na werk met iets aan ‘n tou agter die pas herstelde rambler die buurerf binnery. Dit was ‘n sonverblykte, eens donkergroen, Austin Oxford. ‘n Goggomobiel ronderug tweedeur karretjie, dalk effens kleiner as ‘n Volkswagen kewer. Dit was die begin van ‘n maandelange naweekprojek tussen Pa en seun,hierdie keer nog nader aan ons ogiesdraad heining en weereens vir my ‘n interessante bron van vermaak en nuwigheid.
Vir die eerste keer kon ek sien hoe lyk ‘n uitgehaalde enjin as dit eenkant staan. Ek het geleer van “grinding paste” (dis nou iets waarmee koolstofneerslae weggeslyp word van kleppe) en nuwe woorde soos “distributor, carburettor, tappids , timing light, top dead centre,priming”, en allerlei filters.
Dikwels is die Rambler nadergebring en sprinkabels ”Jumper leads” gekruiskoppel in ‘n poging om die Austentjie se enjin te krink. Jou ore vang woorde soos:
“O K, try hom nou!”
dan humme –humme die Austintjie se binnegoed so vir ‘n rukke maar daar is geen teken van ontsteking of self-aandrywing nie. Die Oom sal dan ‘n paar woorde rep oor kompressie, punte, of "coil” of "condenser” of "plug drade” en dan word die projek vir eers tydelik uitgestel tot ‘n volgende keer.
Een Saterdag, na die vervanging van seker meeste van bogenoemde onderdele, het die enjinkrink dadelik belowend begin klink en, na ‘n paar spoeg-spoeg klanke, enjinvat en sissende suiggeluide uit die vergasser se oop keel tel die toere op tot alles dreun en vibreer en toe weer afneem in toonhoogte tot stil word. Laastens is daar ‘n klank, amper soos die klok in ‘n bokskryt, van ‘n spanner wat rinkelend val en gepunt word met nog ‘n kragwoord.
Ek vermoed Vleis was van mening dat die Austintjie se herstelwerk einde se kant toe staan want shortie roep my eendag en vra of ek hulle kan kom help stoot. Tot my verbasing was die ouerpaar nie tuis nie en met Vleis agter die stuur, skrum die vier van ons met jong seunskrag die Austintjie oor die sowat vyftig meter afstand met verstommende toename in spoed in die rigting van die voorhek.
Vleis los die koppelaar, die Austintjie swik momenteel, klink of hy wil smoor en hoes ‘n paar keer. Toe skiet dit neus in die lug vorentoe met skynbaar ongetemde krag sodat ons nie meer kan bybly met die stotery nie.
Toe eers sien ons die hek is gesluit met hangslot en ketting. Het die ouerpaar dalk iets vermoed en prober veilig speel?
Selfs al wou hy, sou Vleis hierdie perd se teuels nie betyds kon intrek nie want die volgende oomblik spat slot en ketting en die hek swaai straatkant toe oop terwyl Vleis bykans tweewiel net betyds sy draai kry straat-af, verby ons huis en Oom Coenie s’n. Die gedruis word sagter soos die skedonkie onder by die T aansluiting weer regs kantel en toe hoor ons geleidelik al hoe minder.
Dit was Kêrrie, die jongste wat toe die voortou neem met my, Whitie en Shortie op sy hakke straat-op om Vleis in te wag met die kloksgewys terugkom om die blok.
Dit het nie gebeur nie, of nie soos ons verwagting was nie. In werklikheid Het die Austintjie goed afdraend gevorder en toe, met die aanvang van die opdraande doer onder oor die spruit, taan alle dryhwing en verloor die tjorrie sy asem om dit nooit, nooit weer terug te kry nie.
Vleis is vroeg (met die destydse standard agt) uit die skool en het ‘n aanstelling by die stasie gekry as leerling Stoker. Hierna ,alvorens die volgende vlak, dìe van ‘n Drywer bereik kan word,moet jy eers ‘n “Shunter” of Rangeerder word en dit was blykbaar hier, tydens Vleis se vierde poging om iets kragtig te laat ry, waar hy sy aanstelling by die S.A Spoorweë en hawens verloor het. Die storie het die rondte gedoen dat hy knaend die stoom lokomotiewe laat spin het en so skade veroorsaak het tussen wiel en spoor.
Baie jong skoolverlaters het in daardie dae aanstellings gekry op die Witwatersrand se goudmyne. Toe ek dus hoor dit was Vleis se volgende betrekking, het ek nogal gewonder oor vervoermiddels by myne en tot watter mate mens dit vinniger kan laat gaan.
Spore van die groot stad:
Die klein dorpie-bestaan het dikwels ons jongklomp onder mekaar idees laat uitruil oor hoe dit gaan in die groot wêreld daarbuite, groter dorpe of selfs stede soos Johannesburg. Díe wat al daar was het vertel van verkeersligte, geboue van etlike verdiepings met hysbakke en dat jy gedurig op jou hoede moet wees vir skelms waarvan daar blykbaar baie soorte was. Die sort wat jou in donker stegies voorkeer met ‘n mes en aandring op jou beursie dra sagte skoene of “sneakers” sodat jy h ulle nie kan hoor beweeg nie. Dan was daar blykbaar ook ander wat sommer in die verbygang blits-snel jou horlosie en juwele afpluk en weghardloop.
Maar daar was een kategorie van skelm waaroor sulke kleurvolle stories vertel is dat hulle amper legende status geniet het. Dit was jong, swart leerbaadjie-draende mans wat uitgeken kon word aan hulle olierige lang kuiwe, baie noupassende langbroeke of “stove pipes”, skoene met ystertjies of “studs” en tatoeërmerke . Hulle het rondbeweeg op kragtige motorfietse en het nie baklei met vuiste soos ons nie maar vuil, met wapens soos pikstele, messe en kettings ommee te slaan of wurg. Ook "knuckle-dusters” (dis ‘n knopperige stuk metal) wat, wanneer oor ‘n vuis gespan,’n vuishou kon omskep in ‘n sort hamerslag.
Hierdie sort skelms het bekend gestaan as “Ducktails” en hulle motorfietse was nie van die besadigde sort soos die van Oom Bossie, ons goedige dorp verkeerskonstabel nie, nee. dit was skeefstaan blink-speek monsters, lang-vurk voorwiel eenkant toe gekantel. Die handvatsels was verhewe en weerskante was blink uitstaan val-werende kant ysters, flitsende opkrul uitlaatpype en ekstra uitsteek geriffelde “cylinder heads” vir optimale enjinventilasie.
Volgens gerugte was bo-baas “Ducktails” se motorfietse van die sogenaamde “Black Prince” soort. Ook genome “Black Widow) is vertel dat hierdie kragperd, wanneer splinternuut in die vertoonlokaal van motorfiets handelaars, bo-op ‘n doodskis staan. Trouens, as jy ‘n Black Prince kon bekostig , was die doodskis ingesluit in die transaksie. Jou dae is, weens die kragtige “whiplash” nek-breek versnelling,in elk geval getel en , as jy getroud is, sal jou vrou binnekort ‘n weduwee wees - vandaar die “Black Widow” bynaam.
Die “black prince/ Black Widow” legend het ek by verskeie geleenthede probeer navors maar, net soos die legend van slange wat direk melk drink uit staande koeie se spene, kon ek nog nooit betroubare bronne oor die bestaan daarvan raakloop nie.
So tussen drie en vyf, een herfs agtermiddag, sien ek en ‘n paar maats ‘n onbekende verskynsel by die stopstraat duskant die President kafee. Dis ‘n vreemde, amper spookerige tipe swart sirkel op die teer net langs die stopteken.
Omtrent twee meter in deursnee herinner dit aan vertellings van spore wat gelaat word deur vreemde ruimtewesens se vlieënde pierings. ‘n “weet-alles" seun het toe te vertel dis ‘n “dough nut”. Dis gebrande rubber vanuit die agterband van ‘n motorfiets.
Jy trek die rem vas van jou motorfiets se voorwiel, jaag die toere op en laat die agterwiel spin sodat jy dit in ‘n horisontale kring rondom die voorwiel (as midddlpunt van die sirkel) laat gly. Dis blykbaar net rook, vonke en baie dramaties-raserig.
Ek sou veel later leer dat so ‘n kring gelaat word deur iemand wat, amper as ‘n vorm van “ek was hier”, ‘n indruk wou laat, baie dieselfde as die merk-pieppie van ‘n reun hond.
Die seun wys toe ook in die rigting van ‘n swart twee-wiel gevaarte, leunend op ‘n sy-staander, reg voor die glas swaaideure van die President kafee se ingang.
Nuuskierig staan ons nader en betrag die gedoente.
“Hoeveel is hy gemerk hê?” wil een weet terwyl hy na die spoedmeter wys.
“Check net die breë tyres” sê ‘n ander
“Sjoe, maar die handles is hoog” kom nog ‘n opmerking.
‘n Geknars van die President se glasdeur onderbreek toe ons verwondering en Behoedsaam ont-swerm ons die ryding met die verskyning van ‘n swart leerbaadjie-draende jong man uit die kafee.
Met effens voor-oor geboë houding en metaal-klinkende voetstappe, flap hy bak-arm sy baadjie oop en stop ‘n pakkie 20 texan plain in sy oopgeknoopte hemp se sak. Vir ‘n oomblik sien ons ‘n tattoo van ‘n bakkop- slang op die rugkant van sy hand en van agter die ruie borshare, net-net onder ‘n silwer hals ketting, is nog ‘n uitbeelding van ‘n oopgesperde-kloue vliegende arend sigbaar.
Sonder enige oogkontak in ons rigting, swiep hy sy kop sywaarts sodat die oliekuif eenkant toe wip.
Toe swaai hy sy linkerbeen oor die monster se saal, kantel dit regop, skop die systang terug en vervolg toe - elmboë gepunt na bo - met nog ‘n ystersool skop of twee op die “kick-starter”. Met een krink van die ver-daar-voor wiel, terwyl hy homself agteruit gids, bring hy die koplig kykend in die rigting van die Hendrik Potgieterstraat kruising.
Met bulderende enjin kies hy koers straat-af, eers oor die groot voor—brug met sy paddas en krappe, dan oor die wilgerboom-belynde Schoonspruit brug, en laastens oor die treinspoor brug op die Krugersdorp pad.
In my broeksak voel My vingers die bekende tekstuiur van 'n nickel 5c muntstuk. Ek stap die President binne, verby die lekkergoed-gevulde geronde deursigtige glas vertoonbank, verby die pannelite tafeltjies met brylcream asbakkies, reg tot agter.
Hier staan die veelkleurige metal en Perspex ”juke box” met sy liggie nommerknoppies .
Binne sien ek die draaitafel en die swart viniel ” 7 single” grammofoonplaatjies wat in gelid langs mekaar lyk soos ‘n horisontale waatlemoen-grootte silinder.
Ek glip my 5c deur die gleuf, hoor dit dofweg plof en druk die verligte nommer 3 knoppie.
Afwagtend hou ek dop hoe ‘n haak, amper soos dìe wat dien as ‘n hand wanneer iemand ‘n voor-arm verloor het, verskyn vanuit die hoek. Gegids deur ‘n spoor skuif en stop die haak, sak tot op die rand van een van die regop-staan plate en lig dit dan rukkerig en robot-agtig uit die silinder.
Die hak kantel effens en plaas die stukkie viniel presies op die draaitafel se middelpen. Terwyl die haak grotesk en amper insek-agtig terugvou na sy hoekie, lig die gekromde arm met die naald vanself, krink na binne en sak presies op die blinkende inleidingstrook van die reeds-draaiende geel-etiket vinielplaat.
Statiese draaigeluide is vir ‘n paar oomblikke hoorbaar totdat ‘n trompet inleiding en die vraag uit Tony en Dawn Orlando se stemme kom:
“Hey girl what you’re doing down there ..”
En dan later, die refrain:
“O my da-har-lin KNOCK THREE TIMES on the ceiling if you wa-hant me…
Twice on the pipe,
TING, TING…
if the answer is no-ho-ho-ho..”
IJ Blom Covid19 Grendeltyd, 2020
Ander stories:
Afrika Kerswens:
Slot, stut, starter en reverse:
Van bekendes tot bemindes: