Soos op 2025 03 19
Kubermonument vir die Koeksister
Te midde van moderne neigings om gesonder te eet, suikerinname te verminder en stysels te vermy, moet daar tog ‘n stem opgaan en behoorlike gedokumenteerde waardebepaling gedoen word vir die belangrikheid van koeksisters.
Vir die oningeligte is ‘n definisie van die konsep “koeksister” eerstens van pas: Kortliks is dit ‘n goudbruin geglasuurde gevlegde soethappie bestaande uit deeg en suikerstroop wat as vingereet-item opgedien word tydens rituele soos partytjies,meestal deur Suid-Afrikaners.”
Die “partytjies” waarna verwys word in die definisie sluit in: doop; Verjaarsdae; mondigwording;gradeplegtighede; verlowing; kombuistee / rampartytjies;bruilof; ooievaars/doekebraai; Kers- en nuwejaarsdagvieringe, maar ook kantoorpartytjies; afskeidspartytjies en, helaas, op die onthaaltafel tydens begrafnisse of herdenkingsdienste.
Die koeksister is dus daar tydens feitlik elke vieringsfase in die Suid-Afrikaner se bestaan, vanaf konsepsie tot kluitklap.
Dis ook bekend dat die bak en verkope van koeksisters oor jare ‘n effektiewe manier van fondsinsameling was. In dìe verband het my eertydse kollega (Hannes Roux) tydens meer as een geleentheid gesê: “moenie die krag van die koeksister onderskat nie, dit het baie kerk- en skoolsale opgerig!”
Volgens oorlewering het fondsinsameling via koeksisterverkope ook grootliks bygedra tot die oprigtingskoste van die Voortrekkermonument.
Maar aan watter vereistes moet dìe soetstrikkie voldoen? Hoe evalueer mens dìe taaiegeid? Wat is die standard waarvolgens alle pogings tot koeksisterbak en koeksister bemarking gemeet kan word?
Die kleiner agt sentimeter weergawe met die harde buitekant is myns insiens die lekkerste en dan is daar die groter en sagter weergawe wat ook 'n groot volgelingskap het. In beide gevalle moet die waarde van die sogenaamde “koue ketting” beklemtoon word omdat ’n koeksister sy vorm die beste behou wanneer koud gehou.
Tuisnywerhede of supermarkte wat koeksisters sommer op enige onverkoelde rak uitstal laat nie hierdie spesialiteit tot sy reg kom nie. Die fynproewer sal fokus op verspreiders , soms selfs slaghuise wat dit koud hou en dit vervoer in koel-houers.
Wanneer koud gehou, bly eienskappe soos Glans; Kleur; vorm; grootte; eksoskelet en nattigheid of spatindeks behoue, selfs vir ‘n paar dae. Glans, vorm, Kleur en grootte het te doen met die koeksister se selfbemarkings eienskappe as dit op dieselfde partytjiebord meeding met ander soetighede soos klapperkoekies; hertzoggies; merangskuimpies;ystervarkies; kondensmelkdoppies;dadelbolletjies; vingermelktertjies en roomhoringtjies.
Eksoskelet en spatindeks het te make met die vinger-hanteerbaarheid en algemene mondgevoel as jy deur die goud-bruin gekaramaliseerde buitedop byt en die verrassende soet nattigheid van die bleker binnekant ervaar. Ek is van mening dat bogenoemde eienskappe die rede is waarom koeksisters heel eerste opraak tydens vinger-ete funksies en meeste nemers uit die staanspoor meer as een oortel.
Ek bring hier hulde aan koeksisterskeppers wie met toewyding, ervaring en liefde die kontras tussen vuurwarm olie en yskoue suikerstroop inspan om die lewe van meestal onbekende verbruikers via tuisnywerhede, slaghuise, supermarkte of bakbestellings op te vrolik. Mag elkeen van hulle ‘n persoonlike pelgrimstog onderneem om die koeksister monument in die Noord-Kaapse dorpie Orania te besoek.
Die diep olie braai en dan dadelik doop in koue suikerstroop (wat die tegniek is van koeksisterbak) word ook gebruik in die Kaapse "koesiesta", Indiese "sweet meat" en Chinese"Bow Tie".
In 2022 het Rudolph Borain, 'n student aan Universiteit van Pretoria 'n Honneursgraad in Geskiedenisverwerf met lof met die titel:"Die Koeksister, 'n verstrengelde geskiedenis"
IJ Blom Herfs 2025