Vier Kitare
Oor Gerhard, Gerrith en Lukas
Soos op 2024 02 14
Hierdie storie is opgedra aan alle musikante wie vreugde vind daarin om andere se dag te draai met hulle liedjies en wie mede-musikante help om hulle talent uit te brei
Ek dra dit eerstens op aan ‘n eertydse onderwyser, Gerhard Shultz, wie nie net mooi kon sing nie maar ook vaardig was op gewone kitaar, baskitaar, trompet en selfs op dromme / perkussie. Dit was juis toe hy ’n dromspeler in ons gemeente se orkes was toe ek hom leer ken het.
Die tweede musikant in my storie is Gerrith du Toit,ook ‘n vrywillige kerkmusikant en informele musiekonderwyser.
Derdens bring ek hulde aan Lukas Puti, plaaswerker maar ook self-geleerde musikant op die Calitzdorp plaas waar Gerrith grootgeword het.
Maar laat ek begin met Gerhard Shultz In sy jare as onderwyser by die Wilgers Hoërskool het hy en drie leerlinge ‘n orkes gestig en soms op Saterdae gaan speel in tehuise vir bejaardes.
Met só ‘n kuiertjie begin hy gewoonlik deur homself voor te stel en ook die leerlinge wat saamspeel en dan bedank hy die grysaards vir die geleentheid om vir hulle te speel.
Eerste aan die beurt is dan ‘n paar halleluja’s soos “Daar’s ‘n Dierbare Kruis”, “Just a closer walk to Thee”, “Genade onbeskryflik groot”.
Teen hierdie tyd is daar al ‘n paar nat wange en glinster oë en dan verander hulle die tempo met liedjies soos “La Bamba”, nogal in Spaans en gerhard verduidelik sommer tussen-in wat die woorde beteken terwyl die wysie in die agtergrond draal:
"Ek is nie die matroos (marinero) nie, ek is die Kaptein.." dis wat "soi Kappitan" beteken en ons moet onsself gereeld daardie vraag vra..” sê hy dan .
Ander ou bekende liedjies soos “Love me tender”, ”Blue suade shoes” kom dan aan die beurt en die toehoorders klap later lekker ritmies saam.
Te oordeel aan die innige bedanking en die koevertjie wat groet-tyd aan Gerhard oorhandig word is daar geen twyfel dat die klank-reis na die verlede die klompie seniors in vervoering gehad het nie.
Ek vra eendag vir Gerhard of hy my kan leer baskitaar speel en hy bied aan om sy 4 snaar baskitaar vir my te leen en my ‘n paar lesse te gee.
En so bring hy op ’ndag ‘n selfgemaakte platterige houtkis (hy was ook ‘n houtwerk onderwyser) wat hy trots oopskarnier. Daarbinne, knus gestut deur spons en vilt voering lê die mooiste glimmende donkerhout baskitaar. Ook ‘n stemfluitjie, skouergordel en klankversterker-koord.
“Jy kan hierdie kitaar by jou hou vir ‘n paar weke..” sê hy “bel my een aand dan verduidelik ek jou sommer oor die foon watter note waar is en hoe jy dit maklik kan onthou..” En hy knip die kis toe .
Die aanskoue van ‘n musiekinstrument se houer of kis herinner my altyd aan die storie wat die sanger/pianis Coenie de Villiers een aand tydens ‘n solo vertoning in Pretoria se Atturbury Teater vertel het.
“weet julle hoekom musikante praat van ‘n optrede as ‘n gig?” vra hy die gehoor.
Coenie vertel dat, terwyl straatmusiekante of “buskers”aan’t speel is het hulle gewoonlik die instrumentkis oop op die grond. Verbygangers gooi dan munte of note in die kis en elke keer as die geldjie val, knik die musikant in die weldoener se rigting, sê dankie en eindig met die woorde
“God Is Great (GIG)”.
Ekmaak toe gebruik van Gerhard se aanbod entoe ek hom bel sê hy:
“OK, neem ‘n A4 papier en trek vier horisontale lyne daarop. Hierdie lyne verteenwoordig ‘n baskitaar se vier snare. Memoriseer die rympie “Flies can’t go down an empty bottle” en dan skryf jy die letters vir “Go Down An Empty van onder na bo langs elke streep
Dit is die note van elke snaar en jy kan dit instem met die stemfluitjie in die kis.
Trek nou vier vertikale lyne oor die horisontale lyne om die fratte te verteenwoordig:
Steeds in dieselfde foongesprek laat hy my sy kitaar uit die kis haal, verduidelik watter vingers op watter snaar en vrat moet druk vir ’n eenvoudige”Do Re Me” (of toonleer) progressi.
“Goed, nou dat jy dit verstaan, gaan oefen dit eers en dan bel jy my weer as jy ‘n toonleer kan speel”
Soos mens ‘n klein boompie plant en dit net genoeg water gee om sy wortels te sprei in die grond, het Gerhard my die nodigste gegee om op my eie aan te gaan. Met my skets en rympie kon ek die res van die uitleg verken en geleidelik toonlere bemeester.
Op ‘n dag is Gerhard in die skool se houtwerkswinkel besig om ‘n plank na die lem van ‘n sirkelsaag te gids. Soos altyd hanteer hy veiligheidshalwe nie die hout direk met sy hande nie maar gids dit aan met ‘n los vashou stukkie hout vir veiligheid. Dit is ‘n beginsel wat hy daagliks by sy houtwerk leerlinge indril.
In ‘n frats-ongeluk haak die lem die stuk hout,laat dit opskiet teen die gidsplankie en ruk dan altwee nader, ook drie vingerpunte van Gerhard se linkerhand
Kitaarspelers gebruik juìs die linkerhand vingers vir die drukke en Gerhard kon toe met die wag vir die gesondword vir weke nie speel nie.
Eie aan sy aard en positiewe lewensuitkyk het Gerhard eenvoudig sy geskende, nou korter vingers opnuut geleer om steeds die snaar drukke reg te kry.
Met weersiens ‘n paar maande na die ongeluk is sy glimlaggende gerusstelling aan my:
“Die ongeluk het darem geensins my dromspelery affekteer nie...”
Dankie Gerhard, danksy jou het ek in my middeljare begin baskitaar speel in ons kerk se orkes en dit bring my steeds, na twee dekades vreugde as ek ‘n oproep kry van die musiekleier om Sondag te kom saamspeel.
Gerrith du Toit
In ons buurgemeente is hy een van die musikante,gebore op’n ‘n plaas naby die pragtige Calitzdorp in die klein-karoo.
As student in die destydse Universiteit van Port Elizabeth koop hy ‘n tweedehandse kitaar by ‘n mede-student. Hoewel ‘n onbekende Japanese fabrikaat, het die kitaar tog getuig van stewige vakmanskap en het ‘n besondere klank gehad.
Later, toe Gerrith begin werk in Pretoria koop hy sy eerste nuwe kitaar by ‘n musiekwinkel wat in die tagtigerjare op die hoek van Bloed- en Andriesstrate naby die dieretuin was.
Met vakansies op die Calitzdorp plaas verwonder hy hom aan die musiektalent van Lukas Puti, sy Pa se regterhand en plaasvoorman
Lukas had ‘n ou kitaar waarmee hy die volkies vermaak het en ook die kersliedjies begelei het as die werkers oukersaand by die opstal kom serenade.
Groot was Lukas se verbasing en dankbaarheid toe Gerrith, tydens een van sy plaasbesoeke, die Japanese kitaar aan Lukas oorhandig en aankondig: “Lukas hy’s nou joune”
By ons gesamentlike werkgewer weet ek van ten minste drie kollegas wie gehoor het van Gerrith se unieke benadering om mens te leer kitaar speel. Tydens sy etensuur wys hy hulle dan op een van sy kitare die drukke. Hy vra geen vergoeding nie en kry bloot bevrediging daaruit as hy sien hoe hulle vorder.
“Daar is ‘n beginsel wat Franse wynmakers toepas..” vertel hy my. “Dit kom daarop neer dat, as jy ‘n nuwe wingerdstok plant, gee jy dit die nodige water om wortels te sprei in die grond. As dit nie vat nie, haal jy dit uit en plant ‘n ander in sy plek..”
Hy noem dat dit ‘n plesier is om iemand te leer wat gretig en vinnig vorder. Dìe wat nie regtig ernstig is om die instrument te bemeester nie hou sommer gou uit hulle eie op met die lesse.”
Tydens ‘n etensuur kuier ek eenkeer by Gerrith en merk ‘n kitaar in die hoek op wat ek nie vantevore daar gesien het nie.
Ek tel dit op, streel oor die snare en die ryk klank val my dadelik op.
“En dìe kitaar Gerrith?” vra ek
“Daai was my eerste kitaar..”
en hy vertel my die storie van Lukas Puti,sy stringe self-gekomponeerde liedjies en die vreugde wat hy gereeld met sy musiek op die plaas gebring het.
Hy vertel van sy eie pa se siekword en hoe sy Pa soms gevra het dat Lukas langs sy siek- bed troos bring deur vir hom te sing met begeleiding op hierdie einste kitaar.
Kort na Gerrith se pa se afsterwe begin Lukas se gesondheid ook verswak. Hy word gediagnoseer met kanker,word gestuur vir chemo behandeling maar verloor die stryd binne ’n paar maande.
“Mens raak geheg aan sekere instrumente en hierdie ou kitaar se vervlegtheid met die plaas en sy mense het die instrument se waarde en betekenis vir my in diepte laat toeneem Toe ek hoor van Lukas se afsterwe het ek Mieta (sy vrou) gekontak en ‘n bedraggie aangebied om die kitaar “terug te koop” uit die boedel. In daardie tyd was my vriendin en kollega Herma op besoek in Calitzdorp. Sy doen my die guns om namens my leedwese teenoor Mieta te gaan betoon, die vergoeding te oorhandig en die kitaar as handbagasie terug te bring op haar George na Johannesburg terugvlug.”
In 2024 is Gerrith steeds ‘n gereelde musikant tydens eredienste van die N G Gemeente Oosterlig, Constantia Park Pretoria.
IJ Blom Herfs 2024
Hieronder 'n liedjie wat Gerrith gekomponeer en opgedra het aan Lukas op sy youtube kanaal: Gerrith op youtube
Sien ook my ander musiek storie oor ons Volkslied by: