Mens kry soms te doen met dinge wat half uit plek lyk en net nie inpas by die omringende omgewing nie.
Met die aanskoue van so iets is mens se eerste gedagte dat dit maar seker ’n tydelike uitsondering is, van korte duur is en dat alles môre of na ‘n paar dae weer terug na normal sal wees.
Maar as so ‘n uit-plek gedoente jou oor weke, selfs maande opval, begin jy nuuskierig raak en maak jy planne om jou eie onrus te besweer.
Sò ‘n verskynsel was vir jare te sien voor die deftige, twee-BMW-in-motorhuis boomryke watertuin woning hoër op in ons straat.
Op die netjies rol-lem grasmasjien gesnyde sypaadjie kweek voor die indrukwekkende blyplek was ‘n groenerige roesplek en duik-oortrokke geflenterde ou kraakruit Japanese bakkie dikwels heel uit plek te sien.
Aan die afdraend-kant van die geen-groef voorbande kon mens ‘n baksteen sien uitsteek.
As jy kon binneloer sou jy sien hoe die stuurwiel met ‘n fris ketting en hangslot aan van die pedale vasgesluit is.
Ek sou mettertyd uitvind dat hierdie rammelkas behoort het aan Vincent, wie bevriend was met die inwoners se huishulp.
Eendag, tydens een van my hondestappies, doem die profiel van Vincent se geboë rug onder die gapende enjinkap van hierdie deurleefde een ton bakkie voor my op
Ek groet, stel myself voor en beduie dat ek net hieronder om die draai bly.
Hy gebruik die kennismaking om aan my te noem dat, as ek ooit tuinafval wil laat verwyder, hy dit vir my teen ‘n goeie prys sal doen.
Sò ‘n geleentheid het gou aangebreek en tot my verbasing mik hy nie agterkant eerste my erf binne sodat hy naby aan die hoop tuinafval kan wees nie. nee, hy parkeer buite, dwars voor die hek, kopligte bult-af kykend .
“Maar Vincent” vra ek, “hoekom reverse jy nie in nie dan hoef jy mos nie so vêr te loop om die goed op te laai nie?”
Vincent se antwoord aan my het ten doel gehad om my te laat verstaan dat sy ryding se trurat nie meer werk nie maar die woorde wat hy gebruik het was bloot:
“maar het hy nie die reverse nie”
Klaar gelaai vra hy my of ek hom net gou kan help met ‘n aan-die-brand stootjie en op my vraag of hy dan problem het met die battery kom sy antwoord:
“nee,die battery is ôraait maar het hy nie die starter nie..”
Vervolgens kom ons stoot pogings telkens tot ‘n rukkerige stop wanneer hy die koppelaar (duidelik in eerste rat) laat los terwyl die momentum nog te min is.
Hygend verplaas ek sweetdruppels op my voorkop met die rugkant van my hand en, waarskynlik rooigesig, beduie ek hortend:
“Dis makliker as mens tweede rat probeer ”
Hierop kom sy dood luiterse antwoord:
“ja, ês meer matlêk, maar het hy nie die second nie..”
Voortaan het die kenmerkende klank van bande wat kortliks tjank tydens die koppelaar los van ‘n ”running start” straat-af feitlik alledaags geword hierbuite.
Vincent het geweet dat die sowat 200 meter bult-af vanaf sy steen-gestutte sypaadjie parkeerplek tot voor ons kleinhekkie hom genoeg momentum sou gee vir die enjin-krink. Die tjank en sidderklank is dan opgevolg deur ‘n stotterende enjinvat,’n baldadige ”hhhummmm… hummmmm” soos die toere opgejaag word en dan ‘n paar kanonskote soos onontsteekte brandstofdampe buite die enjin vlamvat as “backfires”
Die hele klankmengsel sal dan vervaag wanneer die groen gevaarte links by die T-aansluiting straat-af juig.
Maar toe kom die dag waartydens hierdie stel klanke ontstellend anders verloop het:
Ja, die band-tjank en siddering was daar, ook die enjinvat maar geen “backfires” of toere-opjagery nie.
Net een dowwe plof en die amper musicale stem en snaar-bbreek klank van ‘n buigende palisade metaalheining.
Buite, oorkant die T-aansluiting by die Smitte se huis, kry ek ‘n duidelik verwarde Vincent aan’t uitstoei terwyl hy spartel om sy deur te ontkoek van die ”devils-fork”- punte van die (nou neerbuigende) palisade se sparre.
“Is jou brieke ôraait Vincent?” wou ek weet.
En hy verduidelik dat sy slot en ketting bondel, die selfgemaakte teen-diefstal kontrepsie soos vroeër na verwys, op ‘n manier sy rempedaal moes stuit of belemmer het.
“Maar kon jy nie die handrem prober nie of het die bakkie te vinnig gegaan?”
En toe , met sy volgende woorde, word die verskynsel van steen-voor-wiel op die sypaadjie gras ook vir my duidelik:
Terwyl hy met ‘n amper moedelose gebaar sy een hand met vingers na die wolke wuif, antwoord hy:
“maar Het hy ôk nie die handbriek nie!”
IJ Blom
Winter 2020
Ander stories:
Van 3 na 5 en terug:
Afrika Kerswens:
Van bekendes tot bemindes: