Blommekyk

Blommekyk

Hierdie ware Namakwaland -storie gaan oor buitengewone gebeure wat in die 1970’s die lewens van ‘n paar Namakwalandse- en Swartland gesinne ingrypend verander het.

Die rede vir my neerpen hiervan is enersyds om nog mense op te spoor wat van die relaas weet en andersyds, , omdat die storie so buitengewoon is, my opteken-poging so na as moontlik aan die waarheid te kry.

Ek stuur dus hierdie eerste weergawe van die storie aan my vriend Tarries wie dit vir my in die tagtigerjare vertel het. Voorts stuur ek dit aan Willie en Basjan, wie beide nou in Vanrhynsdorp woon en dalk, namens my, aldaar kan navraag doen by hedendaagse Vanrhynsdorpers wie dalk nog iets daarvan kan onthou. Vir enigiemand wat hier vanaf middel Augustus Namakwaland toe gaan vir blommekyk behoort die storie ook ‘n interessante lang-pad lees toevoeging tot die ervaring te wees. Blommekykers word ook aangemoedig om skuinskoek in Vanrhynsdorp of enige ander Namakwalandse dorpie te koop. Dis ‘n eg Namakwalandse beskuit-ekwivalent wat nêrens elders te kry is nie. In kort is dit anysbeskuit / mosbolletjie deeg wat, in plaas van oond-bak, in diep skaapvet gedompel word tot donkerbruingeglans, heerlik saam met koffie of sommer net so te peusel.

Op ‘n dag, lank lank gelede, komplimenteer ek my vriend Tarries op ’n besonder deftige baadjie wat hy aan het. Hy skuif sy brilraam reg met duim en voorvinger, iets kenmerkend aan hom as hy sy gedagtes rangskik vir ‘n sinvolle antwoord, en sê toe:

Jong, jy sal my nou nie glo nie maar hierdie baadjie het ek baie jare terug gekoop by ‘n klerewinkel op my tuisdorp met die naam “Maskam uitrusters...” En toe volg die storie wat ek nou, na die beste van my onthou en verstaan gaan probeer vertel:

Soos Tafelberg Kaapstad kenmerk, het Vanrhynsdorp (300 km darvandaan) sy eie tafelberg,”Die Maskam” wat op linkerhand opdoem soos mens met die Vanrhynspas vanuit nieuwoudtsville se kant af kronkel.

Dis op die rand van die Knersvlakte en in blommetyd word die oog betower met wit en geel sierings(eetbaar en ryk aan vitamine C) en pienk Bokhorinkies met hulle peule wat ook heel eetbaar is en proe soos ertjies. Hierdie is skaapwêreld; en skeer, skeerspanne, wolbaal en wol uitkam raak maklik sinoniem met natuurverskynsels.

So is dit dat, wanneer mens die Maskamberg dophou, jy kan sien hoe vorm nuwe wolkies al krullend teen sy skuins plato, baie dieselfde as wanneer wol uitgekam word.

Mens sou ook maklik die idée van ‘n seilskip met sy mas en seile kon vereenselwig met die vorm van hierdie berg met sy wit wolkpluim aan die bokant. Dit word vertel dat die woord "Maskam" in Koi "plek van water" beteken want die berg het blykbaar 'n paar fonteine.

En so was daar in die laat sestiger jare ‘n mans klerewinkel in die dorp se hoofstraat met die gepaste naam “Maskam uitrusters. Dit was bedryf deur Trudie Meiring,terwyl haar man Marthinus (of Tienie) net langsaan ‘n mans haarkapperwinkel (barbierswinkel of “barber shop”) bedryf het.

Die wit silinder met rooi spiraalstrepe langs die ingang van ‘n barbierswinkel word nie aldag geassosieer met ‘n horlosiemaker nie, maar in Tienie se geval was dit so. As tweede nering het hy in stil tye skêr,kam,knipper, poeierkwas en “cut throat” verruil vir vergrootglas, mikro skroewedraaiers, pinsette en ’n skerp lig by ‘n lessenaar in die hoek van die barbierswinkel om herstelwerk te doen aan horlosies.

In daardie dae was daar nog geen sprake van battery-aangedrewe of digitale horlosies nie en alle pols-horlosies,lapelhorlosies, sak-horlosies, stop-horlosies en bed wekkers het iewers in die binnewerke ‘n spiraalveer gehad wat daagliks opgewen moes word via ‘n handvatseltjie of assie.

‘n Vliegwiel was deur ‘n sogenaamde “haarveer” heen-en-weer laat spin en dit was die basis van die tyd-interval wat mens duidelik kon hoor tik. Laat val jy per ongeluk ‘n horlosie en die woorde “shock proof” staan nie op die rugkant nie, spring die haarveer maklik los en dan moet die horlosiemaker se fyn meganiese vaardighede die saak beredder deur weer die haarveertjie in te haak of te vervang. Word ‘n horlosie aan te veel vog blootgestel, en die woorde “water resistant” kom ook nie op die rugkant voor nie, befoeter dit ook die rag-fyn ratjies en assies agter die wysers en is ‘n diens of skoonmaak nodig.

Is die skade onherstelbaar sou Tienie die lessenaarlaai oopsluit en plat kartondosies met name soos Delfin, Timex, Rotary,Lanco, Tempest, Tissot of Citizen uitpak vir enigiemand wat ‘n nuwe tikker wil aanskaf.

Die Meiring-egpaar was kinderloos en het hulle liefde uitgestort in drie dierekinders naamlik: Vlekkie en Pote, twee Jack-Russel hondjies. Dan was daar Kareltjie, ‘n ware stemkunstenaar van ‘n kraai, kompleet met al die onnutsigheid en blink-goed voorliefde.

Hierdie geveerde kon, benewens al die normale stoutighede waarvoor kraaie bekend is, ook praat, sing,skaterlag, fluit en was ‘n verstommende nabootser. ‘n Mak kraai wat kon wip-wip en vlieg waar hy wou maar telkens terugkeer na sy altyd-oopstaan hok langs die Meirings se bed.

Oorkant die Meiring-woning was die skool se rugbyveld en Karel kon tydens wedstryde die skeidsregter-fluitjie perfek naboots vanuit sy posisie op die druiweprieel. Dit het dikwels ongevraagde onderbrekings in spel veroorsaak, veral as lynbewegings binne kraai-roep afstand kom.

Ook wanneer die hoërskool se kadette met hulle “marching band” rondom die rugbyveld hulle dril oefeninge doen, het Karel baie gou die terme “halt,stuit, een,twee” of “afdeliiiinng, vorwaarts mwa” aangeleer en ook in skoolkadet geledere vir opwinding gesorg.

Sovêr dit voorliefde vir blink goed betref, het Karel ‘n onweerstaanbare betowering beleef teenoor die glimmende silwer van chroom-kraanknoppe. Die gevolg hiervan was dat die voël knaend gepik-pik het aan die knoppe van krane in die Meiring woning tot die draai meganisme van die kraan meegee en die straaltjie water begin uitsyfer.

Dit het dan wel ook eenmaal gebeur dat Karel die speletjie so vêr gedryf het dat die Meirings op ‘n middag met tuiskoms hulle badkamervloer onder water vind. Asof trots op sy prestasie sit die stouter eenkant vlerk-klappend en skaterlag.

Hierdie dierekinders was ook baie geliefd by Bapsie, Trudie se jonger sussie en as daar by Bapsie en haar man Manie gekuier word oor naweke, ry aldrie saam.

As gekwalifiseerde verpleegsuster was Bapsie praktykbestuurder van ‘n algemene praktisyn op die dorp Malmesbury. Wond-versorging en vel-aandoenings was haar spesialiteit en baie pasiënte het die praktyk besoek vir haar helende hande.

Een só ‘n pasiënt was ‘n boer van die omgewing wie vir maande lank,op weeklikse basis moes wondversorging vir brandwonde op sy arms kry. Op ‘n dag daag die boer eenvoudig net nie meer op vir die behandeling nie en met skok moes die dokter en Babsie verneem van sy tragiese afsterwe in ‘n motorongeluk. Nóg groter was die verbasing toe Babsie ‘n paar weke na die begrafnis ‘n oproep van die boer se prokureur kry. Hy reel ‘n afspraak om aan haar te verduidelik dat sy ‘n begunstigde in die boer se boedel is.

Sonder enige gesin, nasate of familie bemaak die boer toe die somtotaal van sy aardse besittings aan Bapsie. Dit sluit in die plaas, een van die grootste in die omgewing, met opstal, implemente,voertuie, lewende hawe,honde, alles.

Daar word gesê dat baie mense die vermoë het om tog , ten spyte van teenslae, sterker anderkant uit te kom, maar dat weinig mense die onverwagse ontvangs van bogemiddelde welvaart, suksesvol kan hanteer.

Babsie en Manie maak toe die keuse om, na die beste van hulle vermoë te probeer om alle bedrywighede op die enorme Swartland plaas oor te neem en daar te gaan woon. Hulle verhuis na die plaas en takel die steil leer-kurwe van boer-word.

Net toe dit lyk asof die twee die uitdagings van ‘n gemengde boerdery begin baasraak, gooi die lewe die volgende draaibal in hulle rigting toe Manie onverwags sterf aan ‘n hartaanval.

Hierdie stel omstandighede laat Tienie en Trudie ‘n paar besluite neem wat ook hulle lewe op Vanrhynsdorp vorentoe ingrypend sou verander. Hulle besluit om, ter ondersteuning van Babsie, om die beurt week-vir-week deur te ry Swartland toe om haar te gaan bystaan met die plaas bedrywighede. Met die eerste week van hulp het Trudie en Kareltjie agtergebly terwyl Tienie met Vlekkie en Pote plaas toe is. Hoewel hy van groot hulp was vir Bapsie, moes hy kort-kort die twee astrante Jack-Russels beteuel as hulle nek-haar orent skoor soek met Ceaser, die Rotweiler hondebaas van die plaas.

As metgesel besluit Trudie toe liewer om Karel saam te neem, toe haar week vir uithelp aanbreek.

Met die oop-staan hok wat saamgekom het as basis kon die voël na hartelus die vlaktes van die plaas verken en het sommer die eerste middag al sy hok verfraai met ’n nuutste blinkende buit uit die melkery, ‘n glimmende aluminium-foelie melk-bottel proppie.

Dit was Karel se manier om net voor sononder in te fladder en in die hok te gaan sit na die dag se verkenningstogte. Tot haar onsteltenis vind Trudie op die derde aand die hok leeg en die voël is nêrens te vinde nie.

Gert, een van die plaaswerkers klop later die aand aan met die erg verbrande en reeds dooie Karel teen sy bors. Die kraai is op die grond gevind nadat hy blykbaar tussen hoogspanningsdrade opgefladder het en doodgeskok is. Merkbaar aangedaan en diep onder die indruk van Trudie se verlies en hartseer bied Gert aan om sommer dadelik 'n graffie te grawe en Karel te ruste te lê.

Eerste ding die volgende oggend skraap Trudie moed bymekaar om Tienie te bel en die hartseer nuus van Karel se stilword oor te dra.

“Ek sal vanmiddag deurry en sy oorskot kom haal om hier by ons huis te begrawe..”probeer Tienie sy trane terughou.

Toemaar my man, Gert het ons reeds gisteraand gehelp en Kareltjie is klaar begrawe..”

“Maak nie saak nie, ek kom haal hom in elk geval, hy hoort hier by ons huis..” dring Tienie steeds aan.

Dieselfde middag nog is Kareltjie opgegrawe en teen die naweek was ‘n netjiese houtkissie gereed vir ‘n waardige ter aarde bestelling onder Kareltjie se geliefde prieel.

‘n Paar maande later, kort nadat Bapsie ‘n plaasvoorman aangestel en die Meirings se hulp minder dikwels nodig was,tref ‘n ander tragedie die egpaar.

Terwyl Tienie doenig was in sy groentetuin met die brakkies wat saamsnuffel,word die drie uit die niet toegetakel deur ‘n buitengewoon aggressiewe swerm bye. Vlekkie en Pote sterf binne minute aan akute asemnood en Tienie word hospitaal toe gehaas waar hy sy bewussyn verloor.

Hy word opgeneem en, eers die volgende oggend, word hy wakker in ‘n staat van disorientasie.

Vir ‘n uur of so is sy gedrag lynreg teen sy gewone rustige geaardheid en brabbel hy aanmekaar oor die onverantwoordelikheid van die munisipaliteit en hulle onvermoe om die dorp te beveilig teen sulke gevaarlike swerms bye. Eers met Trudie se verskyning langs sy hospitaal bed begin hy bedaar

Intussen moes Tienie se sentiment rondom die Munisipaliteit se beweerde onvermoë die plaaslike owerheid bereik het wantDanie, die dorp se gesondheidsinspekteur reel met die hospitaal dat hy persoonlik Tienie huistoe sal neem sodra hy ontslaan word. Vol medelye oor die frats ongeluk biedDanie namens die munisipaliteit aan om ‘n munisipale werker beskikbaar te stel vir die grawe van graffies vir oorle Pote en Vlekkie.

Vir die twee is ook waardige kissies voorberei en is hulle te ruste gelê langs Kareltjie in die skadu van die prieel. Na bewering is selfs grafsteentjies later toegevoeg vir die drie.

En nou is ek by die deel van die storie waar ek die “en toe” vraag moet beantwoord.

Laat ek begin deur die aanname te maak dat die verlies van drie”dierekinders” waarskynlik baie meer traumaties moet wees vir ‘n kinderlose egpaar, veral omdat die diere nog relatief jonk was en hulle kleurvolle lewens so vreemd uitgedoof is.

Sovêr dit Bapsie op die Swartland plaas betref,het ek iewers gehoor dat haar foto in die tagtigerjare gepryk het op die voorblad van die Landbou Weekblad. As “boervrou van die jaar” kyk sy glimlaggend af na ‘n stertjie-waai spierwit lammetjie, al stamp-suigend aan ‘n tietiebottel op haar skoot.

En nou, ‘n half-eeu later het ek die volgende vrae:

leef die Meirings nog? Is dit waar dat hulle later permanent by Bapsie op die enorme Swartland plaas gaan woon het?

Leef Bapsie nog en waar kan mens haar dalk opspoor om hierdie storie uit haar mond te hoor?

Wat is die naam van die Swartland plaas, blykbaar die grootste “droeland wingerd in die suidelike halfrond?

Wie woon nou in die huis oorkant die skool se rugbyveld en is die prieel en dieregraffies nog daar?

Met die skrywe hiervan is dit blommetyd in die Namakwaland en die sierings, bokhorinkies, Maskamberg met sy wolk-seil sal verseker daar wees.

Ook is die gebou waar Tienie se barbierswinkel en Maskam uitrusters was steeds daar maar huisves nou 'n Sjinese winkel.

Skuinskoek is beskikbaar by Kokerboom Kwekery se deli.

IJ Blom Lente 2021

Sien ook my ander Vanrhynsdorp storie oor vars- en brak water by:

www.bloms.co.za/pen/vars.htm

www.bloms.co.za/pen/spin.htm