Postuur en Waarheids-uur

Postuur en waarheids-uur

Oor pigment, voor-sitters en peppermint

Hy was ’n sesvoet vier ”vleispaleis”en bekende provinsiale rugbyspeler.

Vlam , soos hy alom bekend was weens sy vlam-rooi, amper oranje boskaas en baard en see-groen oë , was boonop ‘n wynkenner, veral rooiwyn of “osbloed” soos hy daarna verwys het.

Die kurk van enige werklik goeie rooiwyn sou, volgens Vlam, na peppermint ruik die oomblik as dit uit die bottel se nek kom.

Soos hierdie vertelling ontvou, sal nog ‘n eienskap van Vlam na vore kom. naamlik sy ingesteldheid om die positiewe in enige situasie, goed of sleg, raak te sien.

Alles het begin een oggend vroeg net voor 5 toe Vlam Verdoorn met sy hele gesin(Willemien en die twee dogtertjies) buite by hulle gesinsmotor doenig was. ”Pronkie” was die deernisvolle naam vir hierdie ryding wat gewoonlik saam met ‘n Venter sleepwaentjie die Verdoorns se gesinsvakansies moontlik sou maak

In lyn met haar stiptelike geaardheid, hou Ouma ook stil op die ooreengekome tyd. Haar ryding noem sy “Skedonkie” en dit is presies dieselfde fabrikaat, model en kleur as Pronkie, kompleet met ook ‘n sleepstang.

Na die herontmoeting se drukkies en soentjies laai Vlam gou Ouma se paar goedjies oor en toe klap die laaste deur met opgewonde inklim, vol verwagting oor die see-vakansie.

“Is almal mooi vas?” vra Vlam oor sy skouer en laat sak dan sy kop vir ‘n kort gebed waarin hy die Heer se beskerming vra vir die lang pad.

Hy draai die sleutel en daar is niks. Nie eens liggies wat aankom of enige klikgeluid nie. “Vreemd,” sê Vlam, “sy is onlangs gediens en die battery is ook nuut..”

Hy probeer weer en weer maar Pronkie verseg soos ‘n steeks donkie.

“Hierdie is ‘n klein probleempie wat ons later kan aanspreek” Laat Ouma van haar hoor. “Ons laai net alles oor van julle Pronkie na my Skedonkie en daar gaan ons!”

In minder as ‘n halfuur is alles oorgelaai, die Ventertjie gehaak,ligte getoets, die bestuurdersitplek verstel vir Vlam se massiewe lyf en daar gaan hulle.

Toe die goue bal se bo-rand net-net oor die horison breek is hulle al ‘n goeie entjie uit die stad en die eerste “hoe vêr is die see?” vraag kom uit kleuter geledere.

“Ons gaan baie vêr ry vandag maar julle kan solank uitsien na ‘n lekker piekniek wat ons sommer net-nou gaan hou” verseker Willemien die twee.

“Kom ons sing solank die plaasliedjie julle..” nooi Vlam die kleuters..

“Ek sal begin.. daaaaahaaar anderkant die bult daar staan ‘n plaas..

as daar dan ‘n plaas is dan moet daar ook ‘n baas wees

wat eet die baas? brood en kaas, eet die baas

hou tjiekelou eet die vrou

pipper mint eet die kind

Al was Skedonkie se tenk nie voorbereid vir die langpad nie, is die brandstof tòg genoeg om hulle tot in die Vrystaatse dorpie, Warden te bring.

Voorspoed Motors het pompe, ‘n klein kafeetjie, netjiese op-vars geriewe en boonop ‘n herstel- en diens werkswinkel.

Eenkant is heelwat skadubome met beton piekniektafeltjies en bankies daaronder. Vlam hou stil langs ‘n tafeltjie, laai die piekniekmandjie en flesse oor na die tafeljie, ontkoppel die Ventertjie en kondig dan aan:

“ek is nou-nou hier, gaan net gou volmaak en so..”

Onder duiwe-gekoer word die wit-en-rooi tafeldoek gesprei oor die tafel en die koffie-fles en piekniekmandjies kry hulle plek.

Vol-tenk, Olie, water en banddruk gecheck en ook sommer gogga-vet van die voorruit afgewas , skuif Vlam weer terug agter die stuur en draai die sleutel.

Vir die tweede keer op dieselfde dag het Vlam te doen met ‘n ryding wat soos ‘n steeks donkie bloot verseg om tot aksie oor te gaan Met sy regterhand steeds op die aansitter en sy linkerhand se duim en voorvinger denkend op sy baard, skrik hy half vir ‘n stem langs hom:

“Slaan ek vandag nou die jackpot om waaragtig ‘n celebrity hier by my Garage te kry!” Verwelkom Voorspoed Motors se eienaar sy vername klant.

“Ek is Doors Duvenhage, gaaf om jou te ontmoet, kan ek jou maar Vlam noem? Het jy dan karprobleme?”

“Aangenaam Doors” sê Vlam. Opnuut verbaas oor die reikwydte van sy bekendheid as sportman beur hy orent om Doors behoorlik te groet.

Terwyl hulle blad-skud wonder Vlam tog in hoe ‘n mate sy voorkoms bydrae tot sy opvallendheid.

, “nee, seker iets kleins met die ontsteking of dalk battery...” waag Vlam ‘n opinie.

“Sê jou wat..” gaan Doors voort.. “ek sien jou mense wag al daar by julle piekniek.. los alles in my hande en ons stoot gou jou kar shop toe dan kyk ons..,lyk hoeka nie vir my of julle te haastig is nie?.”

“Nee, ons is rustig en in ‘n vakansiestemming. Dis seker maar net ‘n fuse of so iets en dit sal gaaf wees as julle gou kan kyk. Ek kom sien jou sodra ons klaar is met ons etery....”

beduie Vlam in die rigting van sy mense terwyl hy die sleutel vir Doors gee.

“Geniet ou maat,ons fix haar sommer two-ticks.. Hoe vêr moet julle nog gaan?” vra Doors terwyl hy op sy horlosie kyk

“Winkelspruit” antwoord Vlam.

“lieflike plek, julle gaan dit so baie geniet” vervolg Doors en hy wink die pompjoggie nader om te help met die stotery.

“Kan julle glo!” probeer Vlam pro-aktief die wagtende vrae uit vroue-geledere ondervang.

“Presies dieselfde steeksgeit as vanoggend met Pronkie, draai die sleutel en daar is niks, maar moenie komkommer nie, hulle kyk gou daar in die werkswinkel wat die fout is.” probeer hy hulle paai.

“Ja, wat, niemand is haastig nie, ons is mos met vakansie en nog net ’n paar uurtjies se ry van ons strandhuisie af” voeg Ouma by.

Met mond afvee en servet weggooi ‘n uur of so later, is daar nog nie ‘n teken van Doors nie en Vlam sê:

“Haai, kyk daar in die kampie is skapies en ‘n donkie.. kom julle dan gaan kuier ons bietjie vir hulle”

Die snuif-snuif nuuskierige naderstaan van die langoor, sy stertswiep, voetstamp en oor-draai om die vlieë te probeer pypkan ontlok glimlaggies by die kleuters.

Vlam leuen nader, krap aan die basis van ‘n oor en verklaar sommer daar en dan dat die pakdier se naam “Vaaltyn” is.

“Ek het slegte en goeie nuus...” hoor hulle Doors se stem agter hulle

“Aangenaam, ek is Doors Duvenhage..” strek hy sy hand uit, eers na Ouma, toe na Willemien en dan gaan hy op sy hurke om die kleuters te groet.

“Die slegte nuus is dat ek nie julle kar gou kan regmaak nie, dit lyk my dis die enjin se “management system” wat vervang moet word en dis ‘n onderdeel wat ek eers sal moet bestel.. Die goeie nuus is, ek het met Dinkie, my beste helfte gepraat en ons wil julle graag net-nou met toemaak-tyd met ons double-cab Winkelspruit toe neem. Ons haak die Ventertjie ook sommer , laai julle af voor julle strandhuis en laat weet sodra die onderdeel hier is.”

“OK, wat sê julle?” wend Vlam hom tot sy gesin.

“Maar kan mens nie ‘n voertuig hier rond huur nie Meneer?” Wil Ouma weet, seker uit ‘n mate van skuldgevoel dat dit haar ryding is wat die tameletjie veroorsaak het

“Ongelukkig nie Mevrou, Warden is maar ‘n klein plekkie en ek is bevrees Dienkie en ek is julle beste bet vir nou..”

Die Ventertjie staan snaakserig boude-grond toe met die haak aan die bakkie se hoër sleepstang. Doors en Dienkie, voor; Ouma, Willemien en die kleuters agter en Vlam se groot lyf amper dubbelgevou onder die bak se canopy tussen Skedonkie se bagasiebak-inhoud.

Doors sit voet in die hoek maar moet noodgedwonge spoed verminder toe een van daardie gordyn-dig wolkbreuke hulle na ‘n uur of so tref.

Midde-in alles spring die canopy se deur van knip af en geniepsige vet reëndruppels, later ook hael peper die inhoud van die bak.

Vlam verskuif homself moeisaam tot nader aan die deur en probeer die flappende deur maar met sy hand dig hou.

Genadiglik oorval vaak die kleuters en dra Doors en Vlam hulle slap lyfies bedjie toe met hulle aankoms ’n paar uur later in Winkelspruit.

Met Ventertjie veilig onder die afdak en bagasie afgepak by die voordeur , is Doors en Dienkie maar gou weer reg vir die pad terug.

Die Verdoorns bedank elkeen met ‘n stywe drukkie vir al die hulp en spreekwoordelike ekstra myl.

“Waar is julle grafies, vandag bou ons die grootste sandkasteel wat julle nog ooit gesien het” Nooi Vlam die kleuters die volgende oggend net na koffie en beskuit.

“as die son te kwaai raak kom ons terug vir ‘n lekker brunch wat ek en julle twee gaan maak. Mamma en Ouma gaan rus hierdie vakansie..”

Die bekoring van seesand onder kaalvoet en die betowering van skuimbrandertjies om enkels maak , soos altyd,plek vir ‘n salige, onbevange vakansie rustigheid.

“Two for the price of one?” kom ‘n uit-tand smous, in ‘n wolk van strooi-hoede, hulle glimlaggend tegemoet.

“What about five for the price of two?” Kom Vlam se teen-aanbod en ‘n kort “verpligte” gekibbel lei tot ‘n transaksie wat na ‘n winskopie vir beidepartye lyk.

Sonder dat hulle dit opmerk neem Willemien ‘n foto van die beduiery.

Hoewel Vlam se hoed effens klein is en sy rooi krulle oral uitbars, is hy tòg bly vir die beskerming teen die son.

“Wait..”, wink Willemien,: en sy hou haar kamera uit na die smous. “ before you go, please take a photo of us?”

“With pleasure Mam” en hy rangskik hulle met verstommende fotograaf-vaardighede in ‘n groepie vir ‘n paar kiekies.

Met die smous fort sprei Vlam handoekke op die sand vir Willemien en Ouma ennooi dan die twee kleuters:

“O k julle twee,ek grawe en julle bou.”

Gou bereik die sand-holte sy waterdrempel en toe verander die kasteelbouery in ‘n in-die-gat springery en modder-gooiery.

Na brunch maak Vlam ‘n paar oproepe en later die middag lewer ’n motorhuur-maatskappy ’n bloedrooi Venture af, nogal toegerus met ‘n sleepstang. Selfs al sou Skedonkie na hulle weeklange vakansie nog nie gereedwees nie, sal hulle die Venture naby hulle tuiste by die maatskappy se Pretoria agentskap kan laat.

Nou is hulle gereed vir inkopies en alles wat die Durban-omgewing met sy vele toerisme aanloklikhede bied.

Aan die einde van hulle flietende weeklange vakansie verneem Vlam per telefoon dat Skedonkie inderdaad nog nie gereed is nie en hulle besluit omsommer direk deur te druk Pretoria toe met die Venture.

Net voor die middagverkeer begin dik word aan die suidekant van Johannesburg die middag, merk Vlam met skok op dat die venture se brandstofliggie begin flikker. Gelukkig sien hy die bekende Star-Stop logo van ‘n vulstasie in die verte maar die enjin begin reeds sluk-sluk.

Hy gebruik die laaste bietjie momentum om veilig van die pad se skouer af te stuur tot ten minste op die gruis en grasserigheid langs die grensdraad.

“Wat nou nog?” wil Willemien weet.

“Ek is so jammer julle, ek moes seker die brandstofmeter meer gereeld dopgehou het...” bied Vlam ‘n verskoning aan terwyl hy die reaksie op ouma se gesig probeer peil in die tru-spieeltjie.

“is dit dan al wat fout is?” wil Ouma weet.

“Net so, , maar kyk daar voor, dis seker nie eers ‘n kilometer tot by daardie vulstasie nie. Ek draf sommer gou en dan kry ek vir ons ‘n kannetjie petrol..”

Met sy eerste paar tree, terwyl hy ‘n skiet-gebedjie doen vir sy gesin se veiligheid so alleen langs die pad,hoor hy ‘n toeter agter hom. Hy sien hoe die linker-agter flikker van ‘n ouerige wit Cressida met twee insittendes ‘n ent voor hom begin flits, gevolg deur die aftrek en stilhou links van die pad voor hom

Vir ‘n oomblik wel die dankbaarheid weer in hom op wat hy soveel keer beleef het in die dae toe hy tydens militêre diensplig moes ry-loop huistoe.

Die deur aan passasierskant gaan oop en ‘n bejaarde dame wink hom nader, maak die linker agter deur oop en skuif dan self daar in.

“Sit jy voor by die Oom meneer..” beveel haar voorvinger deur haar reeds-afgerolde vensterruit.

“Baie dankie..” hyg Vlam uitasem toe hy die oop linker-voordeur bereik, buk en sy regterhand uitsteek na die Oom wat half voor-oor agter die stuur naderbuig.

“Dagsê boetman..” kom dit van die Oom terwyl sy ander hand liggies aan sy enkel-veer hoed se rand raak. “Bert Willemse, ek neem aan jy het petrolmoeilikheid?”

“My eie skuld Oom, ek het nie die meter dopgehou nie. antwoord Vlam terwyl hy mik om in te klim en terselfdertyd werk aan ‘n plan om sy lyf in die klein spasie tussen die sitplek en paneelkissie in te wig.

Hy gaan sit half met een boud en trek dan die hefboom terwyl hy seker maak hy verontrief nie die Tannie agter hom toe hy die sitplek verstel nie.

Bert lyk of hy ‘n spook gesien het en Vlam is vir ‘n oomblik ontredderd en vra verward wat dan fout is. “Wat het jy nou- net gedoen boet?” vra Bert toe Vlam die deur toetrek en sy gordel aansit.

“Hoe bedoel Oom, het ek iets gebreek of wat is fout?” vra Vlam terwyl hy afkyk om seker te maak hy het nie dalk op iets breekbaar getrap nie.

“Jy het iets gedoen wat maak dat die sitplek nie meer is soos wat hy was nie, wat was dit?”

Vlam se linkerhand skiet weer baard toe soos hy ‘ oomblik van sin-maak beleef. Hy wonder of hy nie te veel van die Tannie agter hom se ruimte beslaan nie en hy laat sak dus sy linkerhand weer tot by die sitplek hefboom en herstel die sitplek weer so ‘n klikkie of twee vorentoe.

“kan daardie sitplek dan stel Boet?”

Vlam kan nie glo wat hy hoor nie. Is dit moontlik dat ‘n motor eienaar onbewus is van hierdie eenvoudige verstelling?

“Ja Oom mens kan dit vorentoe en agtertoe stel en mens kan ook die rugleuning stel..” Deel Vlam verlig die nuus

“Weet jy hoeveel rusies het ek en die Tannie al gehad van die dag af dat ons hierdie kar gekoop het omdat ons twee so ingeprop amper teen die dash-board moet sit? Ons het al oorweeg om ‘n groter kar te koop en nou sê jy mens skuif net die sitplek?”

“Ja Oom, maar ongelukkig net voor, die agterste sitplek is vas

“Net voor? Beteken dit my sitplek kan ook stel?” vra Bert verbaas.

Met sy geneigdheid om ‘n ligpunt in enige situasie te probeer raaksien, besef Vlam opeens amper iets kosmies en onverklaarbaar saamvallend:

Kan dit wees dat daar ‘n groter plan is agter alles wat so vreemd skeefgeloop het tydens hulle vakansie? Is hy en sy gesin gestuur om hierdie tyd van die middag paaie te kruis met hierdie, nou dankbare egpaar met die uitsluitlike doel om hulle te wys hoe mens ‘n sitplek verstel?

Ek het al hierdie storie dikwels vertel, veral op die langpad en as iemand agter my sê:

“jy kan maar gerus terugskuif, hier is baie plek”

Sò vertel ek die storie by geleentheid aan ‘n mede-reisiger wie ‘n meganiese ingeneur is.

“Jy weet..” merk hy op toe hy nadenkend aan die einde van my storie na mydraai.

“Ek kan verstaan dat so iets moontlik is. Wat ek jou nou gaan vertel gaan jou dalk skok maar dis die waarheid.”

En toe vertel hy my hoe hy self vir amper vyf jaar, elke keer dat hy agter die stuur van sy Mercedes inskuif, irritasie beleef met die lae stuurwiel. Hy het vir jare nie geweet dat mens die hoogte van die stuurkolom kan stel nie.

Hy het ook nie geweet dat die losstaande ronde houer in sy ander motor waarin hy sy peppermente bêre” eintlik ‘n asbak is nie.

Sakkie herfs 2021

Ander stories:

Drie soorte koekoekke

www.bloms.co.za/pen/nes.htm

Springrat:

www.bloms.co.za/pen/rat.htm

Slot, stut, starter en reverse:

www.bloms.co.za/pen/slot.htm

Afrika Kerswens

www.bloms.co.za/pen/wens.htm