Oor skietgoed, stokperdjies, skoot-hondjies en sjokolade
Hierdie is ‘n vertelling wat wys dat nie net katte “nege lewens” het nie maar soms ook honde. Dit is aan my vertel deur Renier,’n eertydse kollega wie soms aangename herinneringe uit sy kinderdae met my gedeel het.
As deel van hulle gesin, vertel hy, , het hulle twee miniatuur Rotweiler hondjies met die gepaste name van onderskeidelik "Krummel" en "Rot" gehad. Ek sê “deel van die gesin”, want die soort liefde wat hierdie hondjies gekry het, gelykstaande was aan dit wat mens vir enige kind sou gee.
Daar is byvoorbeeld partytjie gehou tydens elkeen van die brakkies se verjaarsdae. Dit sou insluit ‘n spesiale boerewors koek, die hele gesin wat saamsing: “veels geluk liewe Krum-mel”en dan iemand wat die kersies doodblaas.
Die Pa, Chris, was ‘n Boeing vlieënier en het, seker vanweë die dikwels wegwees van die huis af, altyd gesorg vir bederfies om sy tuiskoms spesiaal te maak. So het hy baie maal vorendag gekom met weggesteekte sjokolade wanneer die gesin saam televisie kyk. Natuurlik sou daar dan ‘n soetigheid wees vir die twee brakke ook.
Vlieëniers kry dieselfde maaltye as besigheidsklas passasiers en ‘n lekker sappige biefstuk was dikwels deel daarvan. Chris sou dan, met terugvlugte, ‘n deel van sy biefstuk oorhou en - toegedraai in ‘n servet - in sy vlieg adtetas saamneem huistoe. Hond se kind het natuurlik mettertyd die aangename assosiasie met Terugkerende Kaptein uniform en eetgoed gemaak. Sò vertel Renier hoe die twee snuffelaars rondom Chris se broekspype sou maal en kwetter tot hy sy tas oopmaak en vorendag kom met die “steak” wat hy dan netjies in twee deel. Dan volg die “sit.... gee poot ... vat mooi” opdrag en natuurlik die “soet honne” lofprysing.
Tydens ‘n roetine in-enting van Krummel en Rot noem die Vee-arts by geleentheid dat beide hondjies vêr oorgewig is en dat die sjokolade enbiefstuk bederfies maar ‘n einde moet kry. Nie lank na hierdie vee-arts besoek nie is Chris een Saterdagmiddag doenig in die motorhuis toe Krummel, die meer astrante van die twee, met pen-orent nekhare grommend op ‘n losloper Doberman in die straat afstorm.
Tot Chris se skok lê Krummel na ‘n paar Doberman-happe in ‘n plas bloed en derms op die sypaadjie. Chris jaag vee-arts toe wie min hoop het vir redding maar beduie dat sy haar bes sal probeer om Krummel aan die lewe te hou.
‘n Week later word die sigbaar toegestikte stouter ontslaan en is na nog ‘n paar weke, met steke uithaal, weer haar ou self.
Hierdie gebeure was in die tyd toe Renier opgeroep was vir militêre diensplig waartydens hy self min tuis sou wees. Enige Pa sal ‘n seun se terugkoms na grensdiens spesiaal wil maak en in Chris se geval sou die terugverwelkoming wees in die vorm van ‘n groot verrassing.
Dit was die liefdevolle restoerasie van ‘n Datsun 120Y karretjie. Dit het ingesluit enjin oordoen, bekleedsel laat herstoffeer,Metaalblou oorsprei van die bakwerk en splinternuwe bande op lae-profiel glinsterende allooi wiele.
Na maande se toegeweide werk vier Chris die voltooiing van die projek as volg: Hy monteer ‘n R 1 patroon punt-boontoe-wysend op die rand van die “dash board”loodreg onder die tru-spieëltjie. Verskeie foto’s word toe geneem, van die binne-afwerking, die patroon-trofee, asook verskeie skote van buite geneem, insluitende die kenmerkende 45 grade uitwys voorwiel vooraansig hoekfoto: Te pragtig vir woorde!
En toe is dit Winter. Renier lê in ‘n tent iewers op die grens, sy Ma en Kleinboet(beide diep-slapers) droom rustig in hulle onderskeie kamers tuis, . Krummel en Rot lepel-lê in die motorhuis op hulle eie elektriese kombersie langs die “nuut-ruik”Datsuntjie. Elderss in die motorhuis is ook houers met geweerkruid vir Chris se herlaaistokperdjie. Eenkant staan ‘n bondel kampvuurhout, asook ’n paar gasbottels vir kampeerdoeleindes tydens jagtogte.
‘n Paar duisend voet, iewers effens noord in die lugruim bokant die woning kom die kenmerkende “ten minutes to landing”aankondiging deur Chris se vlugpersoneel terwyl die Boeing se vlerkvinne hoorbaar begin verwyd.
Kort hierna word Krummel en Rot wakker, raak waarskyhnlik verveeld en na ‘n kort stoeiery is daar ‘n gekouery aan die kragdraad van die kombersie. Vonke spat,die koord se omhulsul oorverhit en vat vlam, en een ding lei na ‘n ander.
Eers toe die vlamme behoorlik begin woed ontplof die eerste gasbottel en skrik Ma wakker,hoes van die rook en gaan pluk kleinboet uit die bed.
Intussen, na afhandeling van sy vlug administrasie, neem Chris die huistoe-gaan afrit van die snelweg af. Hy merk verbaas op hoe brandweervoertuie met flitsende ligte en loeiende serenes díe tyd van die oggend rooi verkeersligte verontagsaam terwyl hulle jagend iewers heen trompetter.
Nòg groter is Chris se verbasing toe hy kort op hul hakke stilhou voor sy eie rook-benewelde oprit waar Ma en Kleinboet verskrik op die sypaadjie staan en bibber.
Die volgende oomblik ruk ontploffings soos díe van ‘n veldslag die oggendskemer to nog gasbottels, seker ook die Datsuntjie se brandstoftenk en daarna die gelaaide jagpatrone begin knetter.
Danksy die flinke optrede van die Brandweer het die huis self genadiglik geen brandskade nie, net tienduisende rande se rook en roetskade. Die motorhuis se inhoud , darenteen, is totaal in puin. Alles behalwe Krummel en Rot.
Vvanuit iewers kom die twee opgewonde aangetrippel en begin uitbundig teen hulle Oubaas se uniformbroekspype opsnuffel.
En die Datsuntjie?
met nuwe wiele feitlikheeltemal verpoeier was net ‘n laag-op-die-grond jammerlike pikswart oorblyfsel van ‘n bakwerk en onderstelsigbaar.
Reg bokant die tru-spieltjie, amper op die voorste rand van die dak, omtrent so groot soos ‘n gholfbal, was ‘n koeëlgat sigbaar. , Nie vanuit ‘n geweer nie, maar simbolies van ‘n Pa se liefdevolle toewyding teenoor sy soldaat-seun.
IJ Blom lente 2020
Ander stories:
Die ontstaan van Pietersburg
Van 3 na 5 en terug:
Slot, stut, starter en reverse:
Van bekendes tot bemindes: