Ranta Tsepedi
Ranta Tsepedi
Die pompjoggie groet met daardie tipiese Afrika opgewektheid: “More morena”
Izak groet en terwyl hy sukkel-voel vir die sigaretaansteker sê hy:
“Ranta tsepedi chief”
dit is neentien sestig , en die tweerand se brandstof is genoeg om die ou Pontiac se tenk te vul. Buitendien is dit omtrent al geld wat hy in sy naam het behalwe die vyf rand wat hy vir Tassie tuis gelos het om kos te koop, die munisipaliteit te betaal en ‘n nuwe skoolrok vir sy dogter te koop.
Die reuk van die pas aangesteekte sigaret meng met die van die brandstof en met daardie mistieke droë Wes-Transvaal stof, doringbome, gebrande wintergras en houtvure. Ou Lucas, sy motorbestuurder gesels met ‘n paar ander swartes oor nog ‘n laaste insident met die polisie, die aandklokreël en die paswette. Dit gaan met baie gelag en geskerts gepaard. Izak verstaan net hier en daar deeltjies van die gesprek. Hy ken die taal net genoeg om basies te groet en opdragte te gee. Die stof en die wese van die Wes-Transvaal is in sy menswees. ‘ n Klavierstemmer wat oral langs die agterpaadjies by die ou plase en dorpe soek vir werk.
Hy wonder nou weer of hy vandag maar Renosterfontein se kant toe moet gaan, dan kan hy sommer op Derby hoor of die kerksaal se klavier of die Apostoliese Pastoor se traporreltjie nie gestem of herstel moet word nie.
Die eintlike hoop op ‘n inkomste is ryk Van Jaarsveld van Rietkuil se klavier wat lanklaas gestem is en die winterkwartaal se musiekeksamens is op hande.
Die “tsamaia hantle” van die pompjoggie volg kort op die oorhandiging van die tweerandnoot. Lucas draai die Pontiac om in die rigting van die kosterpad, verby die swartruggens afdraai, oor die klein spruitjie, nog verder by die Bothas se plaas met die ronde opstal ry hulle.
Die stof draai agter die motor op en sif deur die onderste bakwerk. Soos altyd bring die sus van beweging daardie half-dromerigheid van lukraak geheu-opdiening.
Friem, soos hulle hom altyd genoem het, ‘n sonderlik wyse ou swartman in sy sestigs wat altyd by Izak se pa as tuinier en algemene werker gewerk het op Ventersdorp, waar Izak steeds woon en grootgeword het. Izak besluit om sommer by ou Friem se stad aan te gaan wat naby Rietkuil is.
Izak is lief vir die outa, op die eiesoortige manier wat mens vir ‘n swarte lief is: half skuldig dat die emosie hoegenaamd daar kan wees ten spyte van jou Ventersdorp grootword, diep en sterk omdat jy sy ou stem en sy manier van beweeg in jou kindergeheue het. Nogtans kompartementeel; jy hier en hy daar.
“Steady Lucas, die voor tyres is glad” sê hy aan die drywer wat teen dertig myl per uur die Pontiac met ontoereikende skokbrekers oor die sinkplaatpad mik. Die groot bloekomplantasies kruip verby op linkerkant. Izak weet dit sonder om te verstaan of hy dit met sy vinnig verswakkende perifere visie, of met sy ingegreinde omgewingsin waarneem.
Dis nou nog twee myl voor suinige Van Jaarsveld se plaas waar hy tweeduisend morg onder mielies het, ‘n afrikaner bees stoetery, en ‘n werkswinkel waar hy vragmotorbakke vervaardig.
Dis negeuur. Hy klop onnodiglik want die werfdiere, honde, ganse en makoue het lankal ‘n besoeker aangekondig. “Dag Meneer Blom, wat soek jy alweer hier by my” sê vrekkerige Van Jaarsveld.
“Ek het gehoop dat daar vir my ‘n werkie is. Daardie goeie Otto Bach klavier is lanklaas gestem en die winter musiekeksamens lê voor en ek wonder of die muise nie al van die filt en hamerkoppe begin vreet het nie”
‘Nee man, ek dink nie dis nodig nie.
“Gert..” Kom daar ‘n stem uit die donker gang. Die dogters kan nie so oefen nie, daar’s twee note dood en die pedale werk nie reg nie. More Meneer Blom, hoe gaan dit?” sê die vriendelike plomp boervrou.
Izak het nog altyd gewonder hoe sy met Gert kon getrou het. Hulle geaardhede verskil soos dag en nag. Hy het altyd die heimlike suspusie gehad dat sy dalk moes trou. Sy stuur-lei hom die donker toegegordynde sitkamer in waar ‘n kat teësinnig voor die klavier padgee.
Die vertrek ruik na paraffienlampe, vloerpolitoer en nuwe lug in luglose plekke.
“Ek sal vir jou ‘n tjek moet gee” dreun Van Jaarsveld “Jy’s baie duur Meneer Blom, hoe kan jy ses rand vra vir twee ure se werk?”
“Ek moes die klavier wat ‘n halwe noot in toonhoogte gesak het tweemaal deurstem. Daar’s baie skade aan die binnemeganisme van die rotte en die muise, en dan was daar nog die pedaal..”
Izak wat nie ‘n goeie besigheidsman is nie, het weer hopeloos te min gekwoteer vir die werk. Net die materiaal alleen was al twee rand werd. Maar hy sê dit nie aan Van Jaarsveld nie wat nog ontevrede die tjek vir hom uithou om te vat en vergeet dat Izak nie kan sien nie. Hy sê bars:
“Gaan jy die geld nou vat of nie? . . Dê man!”
“hê, ahê” lag ou Friem vreugdevol en tandeloos terwyl hy met sy kierie oor die klippe naderskuifel. “Jy het voor my kom kuier ou Sakkie? Ahê, ahê, jy’s my kroon hoe gaan dit?”
Die ou bekende, maar dikwels vergete warmte van ‘n herontmoeting wel by Izak op en hy skud die slap skurwe hand en sit ‘n hand op die ou, maer skouer. Rondom kekkel henne, trots op middag se ovulasie. Die tipiese strooisreuk van misvuur, misvloere, gebrande mieliepap en sweetmens hang amper asemrokkelend in die lug.
Hulle gesels oor die ou man se gesondheid, sy mense en die lobollabeeste wat nou al ‘n eie kuddetjie vorm. Hulle lag oor die ou dae en groet uiteindelik soos ‘n ou man en ‘n jonger op ‘n weersien.
Izak hoor hoe ou Friem iets in Setswana aan Lucas sê waarin die woorde “ranta tsepedi” figureer.
Die son sak oor die bleek winterveld. Die lig is vaalblom en die stoppellande skuif stadig verby met bloekomplantasie en plaashuise in die middelverte. Die skoorstene rook al en by die statte brand die vure reeds in die konkas van viergallon paraffienblikke.
Transvaal-aandmelankolie maak homself met sy mengsel van onverklaarde, onbegryplike hunkering en onderstreping van die verganklikheid van die mens.
By die huis hardloop die kinders opgewonde na die kar. Die fox-terrier ruik eers en pieppie vervolgens teen die wiele wat met fyn plaasstof en vreemde hondereuke oortrek is.
Lucas groet want hy moet voor nege-uur, die aanvangstyd van die aandklokreël wat met ‘n hartseer sirene aangekondig word, tuis wees by die lokasie.
Hy gee ‘n koevert en sê: “die ou man het gasê ek mot voor die baas hierdie gasjee.. hy’t die bees gevorkoop..”
Izak vra vir Erna, sy oudste om te kyk of Van Jaarsveld se tjek gekruis of kontant is
“Pa hy’s gekruis maar dis net vier rand, nie ses nie”
“die bliksemse Van Jaarsveld”
“Pa hier is pampoene wat iemand seker by die plase gegee het en hier is ‘n tweerandnoot aan een se stingel vas”
Ryk, suinige Van Jaarsveld se vrou het hom seker sien verneuk.
In die gefrommelde, verslete koevert wat nog na stroois ruik, vind Izak twee rand wat ou Friem uit sy bietjie beesgeld aan sy wit seun afgestaan het.
PieterBlom 1998
Luister na Izak se stemvurk