Getroue ou metgesel

Soos op 2023 02 20

Dit was ‘n donderstorm-skoongewasde Saterdag-oggend toe ons die oorlogs-museum neffens die Johannesburgdieretuin nader. My gemoed baie dieselfde as wanneer jou getroue ou vriend en waghond, vee-arts toe geneem word vir die laaste keer.

As effense troos het die museum se kurator my tydens ‘n onlangse foon-gesprek verseker dat ek die regte ding doen, hulle mooi daarna sal kyk en dat dit in goeie hande sal wees.

In die kattebak was twee metaalkiste, die groter een met draai-knoppe, hefbome, ‘n slinger, heelwat skakelaars en uitstaan handvatsels vir maklik karwei. Die tweede, ‘n 20cm metaal-kubus as luid-spreker en kragbron.

Ek het hierdie twee items vir die eerste keer in 1964 gesien toe ‘n weermag vragmotor van die Potchefstroom-kommandement dit by ons huis kom aflaai het. Hierdie “eers warm-word”toestel was eintlik ‘n ou-voorraad tweede-wereldoorlogse 0-tot 30-Megahertz R twee nul ses-kortgolfradio. Pa se bod op die uit-skot veiling was vir sy stok-perdjie as radio-amateurbedoel maar die wondertrommel was mettertyd vir die hele gesin ‘n gereelde saam-kloeker. Ek sien in my gedagtes hoe Ma sit en brei terwyl sy luister na Esmé en Jan se “Sò maak mens”, of later die ken-wysie ”Daar is ‘n lied en ‘n glimlag vir jou,in hospitaaltyd onthou.”

Smiddae sou sepies soos “Die Geheim van Nantes” of “Die Banneling”of “Die Wildtemmer” aan die beurt kom.

Somer-midddae kon mens uit die toenemende atmosferiese kraak- en klapgeluide oor die luidspreker aflei dat ‘n donderstorm op pad is,’n vermoede wat gewoonlik bevestig is deur trae vlieë, wat in teenstelling met hulle gewoone ratsheid, half plakkerig op jou vel rondslenter.

Saans moes mens oorskakel na die nag-frekwensies. ‘n Slinger moes dan gedraai word om, via ‘n ketting iewers in die ingewande ‘n konsertina-grootte verstelbare kapasitor na ‘n nuwe rotasie-posisie te krink.

Dosyne wêreld-wye stasies en ander fabriek-agtige geluide(ek sou later uitvind dit was meestal data-transmissies) sal verbyglip met die draai van die lemoen-grootte frekwensie verstelknop. ‘n Boepens inloer-paneel waaragter ‘n verligte draaiende silinder die frekwensies onder ‘n rooi lyn wys help dan om te sien waar jou gekose stasie is.

As primêre bron van Pa se opskerping van wêreldgebeure, sou hy saans wissel tussen BBC, Voice of America of sommer net stop by ‘n onbekende uitsending wat vir hom interessant klink, ‘n hap vat uit sy rou ui en dan knars-kouend terugsit en luister.

Naas klassieke musiek sou hy meeste ander musiek-stasies vermy en selfs ‘n kraswoord laat val as ‘n amper-skreeuende prediker se stem verbyskuif. Sondae sou hy ons nader roep om saam na die direkte uitsending van ‘n simfonie-konsert uit die Johannesburgse stadsaal te luister. Die applous na die tyd het geklink soos reën op ons sinkdak.

Hoewel die oorlogsmuseum se kurator nie self daar was nie, het ‘n sekuriteitswag ons help aflaai en indra na ‘n soort hou-kamer. Ek wys hom toe my koevert, eintlik ‘n brief aan die kurator, wat ek bo-op die radio gekleef-band het. Binne is die geskiedenis en tegniese spesifikasies van die radio, ofte wel, dit wat ek hoop eendag op ‘n uitstal-ruimte inligtingsbordjie sou verskyn.

Ek prop toe maar die luidspreker en kragbron in langs-aan die plek waar die krag van ‘n weermag-jeep se battery sou inprop, swaai die frekwensie-slinger nog ‘n laaste maal en voel die riffels van die frekwensie draaiknop. Ek sou graag die hefbome vir klank-verbeterende filters, die fyner instemdraaiknoppe en die antenna-kabel vasmaak-ankers wou wys. As hy sou vra sou ek soveel meer vertel, dalk van die lorrie, van Ma en Pa, maar my gedagtegang is onderbreek deur die man se enigste vraag: “Sir, what is this thing anyway?”

IJ Blom wêreldradiodag 13 Februarie 2023