Snaar, fluit en witvoet

Soos op 14 April 2025

Die ou Tolhuis aan die begin van die Montagu pas buite George is onlangs opgeknap. Naweke word pannekoek en tee daar bedien en interessante stories vertel oor die werking van die Tolhuis in die ou dae.

Wat ‘n besoek daar ekstra spesiaal maak is die ervaring van ‘n baie seldsame musiek instrument, naamlik ‘n klavier en traporreltjie kombinasie.

Dis blykbaar die enigste een in die land en is in 1887 in Duitsland deur JACOB VILHELM ERBE gepatenteer.

By gebrek aan ‘n naam vir die instrument het die bekende Prof. Chris Lamprecht met die naam "klavimonium" vorendag gekom.

Dit lyk soos ‘n traporrel maar is pure klavier as die lug pedale vir die blaasbalk nie getrap (of gepomp) word nie.

. Die oomblik as die blaasbalk begin werk verdwyn die klavier klank en word vervang met die onmiskenbare traporrel klank. Sodra die lug te min raak vir die fluitjies neem die hamers en snare weer oor.

‘n Ander interessantheid rondom hierdie tolhuis is die eertydse bepaling van die tol fooi. ‘n Bedrag is gehef vir elke wiel en elke trekdier, behalwe as so ‘n trekdier vier wit voete gehad het.

Perde met vier wit voete was dus baie gesog, vandaar die idioom “wit voetjie soek”.

Dan is daar ook die ou Volkspele liedjie “Anna my nooientjie my Ma ‘t gevra, jou Ma moet jou my naam laat dra...”

en dan eindig met: “My Ma ‘t gesê ek kan vir jou kry, as jy op die kolperd met wit voete ry...”

Die skakel hieronder gee toegang tot ‘n onlangse opname wat Neels Brink van die Tolhuis klavimonium gemaak het.

Hierdie storie is aan sowat twee dosyn musiekinstrument en oudhede entoesiaste gestuur en alle reaksies wat ek terugontvang het dui op net soveel verbasing as toe ek self daarvan gehoor het.

Selfs Christo Vorster, 'n praktiserende klavierstemmer in die Boland het nog nooit van so iets gehoor nie en sou graag die Tolhuisse Klavimonium van naderby wou beskouas hy weer in daardie omgewing is.

"Trust die Duitsers om met so iets vorendag te kom.." was sy woorde aan my.

IJ Blom 14 April 2025

Toegif: hier ook 'n naby opname van 'n Afrika Naguiltjie in ons Wingatepark tuin op 6April 2025 rondom 9 uur die aand.

Terug na Bloms