i

Vere Voogde

Vere Voogde

soos op 20220224

Na aanleiding van my storie “vier soorte koekoeke”, waar ek vertel van die Piet-my-vroue en Diederikkies wat vanaf midde-Afrika hierheen kom tussen September en Februarie, brei ek hier verder uit oor die verskynsel van voëls wat eiers in ander neste as hulle eie lê, die sogenaamde “broeiparasiete”.

Dit is ‘n proses wat as gevolg van evolusie ontwikkel het tot instinktiewe gedrag by die parisiterende spesies.

Die voëls in wie se neste die eiers gelê word staan bekend as die “gasheer-spesies” en hulle maak die parasiet-spesies se kleintjies groot soos hul eie, meestal tot nadeel van hulle eie kuikens.

‘n Algemene opvatting is dat dit net voëls van die “Koekoek” groepering is wat parisiteer maar daar is heelwat ander spesies wat ook van gasheer neste gebruik maak.

In Suid-Afrika kom die volgende parisiterende spesies voor: Veertien Koekoek-soorte, vier blouvinkies, ses heuningwyser soorte, een koekoek vink, en drie koninkies.

Aan die gasheer-spesie kant is daar ‘n magdom wat wissel van tink-tinkies, katlagters, houtkappers, bontrokkies, byevreters, rooi en geelvinke, laksmanne, tiptolle, streepkoppies, kwê voëls, krombekke, robins, vlieëvangers, hoep-hoepe, kakelaars, visvangers, swaeltjies, vinke, muisvoëls, jan frederikke, mossies, spreeus, spekvreters, suikerbekkies, lysters, gerik-tiks, kwikkies, sysies, glasogies, flappe en selfs spegte en kraai-spesies.

Hoe kry die parisiterende spesies dit reg om hulle eiers in die gasheer-spesies se neste te lê en boonop te laat uitbroei?

Eerstens moet die parasiet-spesie naby aan die gasheer-spesie se nes kom en tweedens iets in plek hê om te verseker dat die gasheer-spesie die vreemde eier aanvaar, uitbroei en die kleintjies voed.

Weglokking: ‘n Piet-my-vrou mannetjie sal ’n gasheer-spesie paar treiter deur in hulle territorium in te beweeg, aanhoudend te roep en so aandag te trek sodat die mannetjie van die gasheer-spesie die nes verlaat ten einde die territorium te verdedig en die indringer weg te jaag. Sodra dit gebeur glip die Piet-my-vrou wyfie die nes in en lê ‘n eiertjie binne sekondes. Dit kan selfs gebeur terwyl die gas-wyfie steeds in die nes is.

Ek ervaar telkens dat die roepery van byvoorbeeld die Piet-my-vrou hier teen Januarie al meer “histeries” begin raak om (of so dink ek) die lê van die laaste paar eiertjies te verseker soos die tyd naderkom vir die terugtog na midde-Afrika.

Hieronder 'n skakel om na sò 'n "laat Februarie" Piet-my-vrou(opgeneem deur Stephan Johnson naby fouriesburg) te luister. As die skakel nie verskyn op I phone nie, gaan na "format options" linkerkant bo op die skerm en kies "hide reader view"

Parasiet-spesie groter as gas-spesie maar eiers dieselfde grootte: ‘n Piet-my-vrou is heelwat groter as byvoorbeeld ‘n Tink-tinkie of Kwikkie maar eiers en kuikens is dieselfde grootte as gasheer-spesie s’n om nie uit te staan in die nes nie.

Eenersheid van eiers: Die eiertjie van die parasiet-spesie lyk net soos die van die gasheer-spesie in terme van grootte,vorm, kleur en selfs spikkels of patrone op die dop. Dit beteken dus dat ‘n parasiet-spesie net een soort gasheer-spesie teiken. Een Piet-my-vrou sal byvoorbeeld net neste van die Jan-Frederik teiken terwyl ‘n ander Piet-my-vrou weer gaan vir die neste van net Kwikkies, net lysters of net vlieëvangers. Wat ookal die keuse van gasheer-spesie, die parasiet sal poog om eiers in soveel neste as moontlik van die spesefieke gasheer-spesie te lê.

Vinnige eierlegging: Die parasiet-spesie se eiertjie kan binne 10 sekondes gelê word, dus baie vinniger as die lê-spoed van ander spesies.

Nes waar gas-wyfie steeds lê en nog nie broei word geteiken: Parasiet-spesie sal neste teiken waar die gas-wyfie nog besig is om te lê of “bymekaarmaak” nog voordat sy begin broei.

Korter inkubasie periode van parasiet-spesie se eiers: Van al die eiers in die gasheer-spesie se nes sal die parasiet-spesie se eier eerste uitbroei en versorg word. Dit gee dus die parasiet kuiken ‘n voorsprong, en verseker dominansie oor kuikens van die gasheer-spesie.

Konstante aantal eiers: Om te verseker dat die gas-wyfie nie agterkom daar is nou skielik ‘n ekstra eier nie, sal die parasiet-spesie een van die gasheer-spesie eiers uit die nes stoot.

Uitskakeling van kompetisie: Heuningwyser (parasiet-spesie) se kuiken het byvoorbeeld ‘n skerp haak op die snawel en maak gasheer-spesie kuikens daarmee dood. Sekere parasiet-spesies se kuikens wikkel hulleself ook onder die gasheer-spesie se eiertjies in en stoot dan die eier tot op die rand van die nes met behulp van ‘n holte op die rug. So ‘n rand-eier word dan deur die broeipaar geïgnoreer.

Bek en tong-gedrag van parasiet-spesie kuikens: Wanneer die parasiet-kuiken bek-oopmaak om deur die gas-wyfie gevoer te word lyk die patrone op die binnekant van die bek dieselfde as die van die gasheer-spesie se eie kuikens.

IJ Blom Februarie 2022

Met erkenning aan inligting verkry uit praatjie deur Prof Johan du Preez op RSG program “Hoe verklaar jy dit” iewers in 2009 toe die program nog deur Eben Cruywagen aangebied was. Vir my storie “Vier soorte Koekoeke” en ook opnames van baie voëlgeluide, klik op die skakel hieronder: www.bloms.co.za/pen/nes.htm

Sien skakel hieronder na my Koekoeke storie:

www.bloms.co.za/pen/nes.htm