Opgedra aan alle musiek-onderwysers, koor-afrigters en orreliste
Met die skryf hiervan is ek dankbaar vir al die kore waarin ek kon sing, maar veral om deel te kon wees van Koffiekan se koor. Dit was ons bynaam vir Mnr Koos Van Niekerk, wat ook musiek-onderwyser in ons skool en orrelis in Worcester se moedergemeente was.
As sy koorlede het ons soms met sukses inspraak gehad oor Sondag se uitstaplied, veral as ons koor tydens die diens opgetree het. ‘n Gunstelling wat hy dikwels namens ons met uitstap sou speel was “Trumpet Voluntary”.
Met kerkdeure wyd oopgemaak en almal in die gemeente reeds uit, bly ons koorlede sit in verwondering tot met die laaste dawerende noot.
Koor-oefeninge en optredes was altyd voorafgegaan met op—warmings, stem oefeninge soos
“Jonge”, “Miena”, “Munne”
My broer Marius was musiekleerling by Koos en was vas van plan om na skool te gaan studeer in ‘n mediese rigting.
Koos kry Marius eendag op die rooi trappies van die skoolpoort (ons naam vir die wye-deur hoofingang van die vierkantige gebou) en sê:
“Van wat ek aflei uit die manier hoe jy jou musiekteorie benader, dink ek jy moet ‘n loopbaan in die regte ernstig oorweeg.”
Naas Engelse en Afrikaanse koorstukke het Koos ons ook blootgestel aan Latynse, Duitse, Franse, Italiaanse, Nederlandse en Xhosa liedjies, waarvan ons die uitspraak perfek moes kry soos moedertaal sprekers.
Die klap van ‘n regte leer-geweefde sweep oor die gehoor om atmosfeer te verleen aan die begin van ‘n Cowboy liedjie “Get them cattle moving, moving”, was maar een voorbeeld van sy buitengewone koor-afrigting.
Koos was ook ons eerste blootstelling aan die pragtige “Negro spirituals” soos
“Swing Low”,
“Were You There” en
“Let us break bread together on our knees”.
Was dit dalk die begin van my liefde vir kleurvolle jazz-akkoorde?
Behalwe die vele kere waartydens ons koor op naburige dorpe soos Ceres, Stellenbosch en Tulbach sou optree, het Koos elke jaar na ons deelname aan die Kersspel die skoolbus gereël om die koor na verskeie punte soos ouetehuise en die skoolhoof se woning te neem vir die betowering van Kersliedjie koorsang van buite.
Dan los die bus ons iewers in die dorp en stap ons al singend onder die gloed van die oranje straatligte deur die dorp terug skool toe.
As orrelis kon Koos, tydens kollekte in die moedergemeente, vorendag kom met orrelstukke wat ek nêrens elders gehoor het nie en klanke wat ek nooit vantevore uit enige ander pyporrel gehoor het nie.
Altyd verstommend ook hoe, wanneer die buzzer neffens Koos “girts” as aanduiding dat die diakens aan’t terugkom is met die kollektebordjies, hy enige lied met ‘n impromptu aangepaste afeindiging kon afrond.
Ek sou jare later uitvind dat sy kollekte stukke dikwels geensins kerkmusiek was nie maar dat dit bloot bygedra het tot die gewyde atmosfeer.
Een so n stuk laat my nou weer, met die skrywe hiervan tranerig raak, so mooi was dit.
Ek het al baie briewe van dank aan onderwysers geskryf vir hulle insette in my lewe, maar as oud-leerling het ek een aand na Koos gebel toe ek hoor hy is in die fleur van sy lewe sterwend aan kanker.
Asof ons beide besef hierdie is die totsiens-sê oproep van ‘n dankbare skolier, aanvaar hy my waardering en dankie-sê vir die opwekkings-krag van sy opvoeder-wees in my lewe met nederige waardigheid.
Toe maak hy die een vraag wat ek hom wil vra vir my baie maklik:
“Meneer, jy het soms, tydens kollekte, ‘n lied gespeel wat my altyd diep geraak het maar ek kon nooit uitvind wat die stuk se naam is nie. Kan ek dit vir Meneer probeer neurie of fluit?”
“Nou maar laat ek hoor...”
en toe ,so oor die foon, na net sewe note se neurie, onderbreek hy my en sê: “O ja, daardie is Andante Espressivo, ook bekend as “Folk Tune” van Percy Whitlock”.
Ek het vir jare die hunkering gehad om daardie stuk weer te hoor, miskien die bladmusiek iewers te kry en ‘n orrelis te vra om dit vir my, net vir my te speel.
Toe, in November 2013, tydens ‘n gesprek met ‘n jong orrelis en koor-afrigter noem ek my hunkering om “Folk Tune” weer te hoor.
Hy flip sy slimfoon oop, dartel ‘n paar sekondes met voorvinger op die skerm en, tot my verstomming, begin die lied speel.
“Hoe op aarde het jy dit reggekry?” vra ek hom.
“Maklik, vra net enige soek-enjin om die lied op te spoor, druk op die speel knoppie en siedaar!”
Hieronder 'n skakel om na "folk tune" te luister. As die skakel nie verskyn op I phone nie, gaan na "format options" linkerkant bo op die skerm en kies "hide reader view" As gevolg van gesprekke oor Koos met mede-skoliere, kom ek onlangs af op ‘n onderhoud wat Joubero Malherbe kort voor sy dood met Koos gehad het vir die program “Musiek Posbus”. Sy maak melding van ‘n foto op die voorblad van “Die Voorligter”, waar Chris Swanepoel en Pieter van der Westhuizen ‘n ere-toekenning van die Federasie van Afrikaanse Kultuur Verenigings (FAK) aan Koos oorhandig as erkenning van sy besondere bydrae.
In dieselfde onderhoud praat Koos oor die plaas-skooltjie naby die Kliprivier stasie buite Johannesburg waar hy skoolgegaan en sy pa die skoolhoof was. Ook hoe hy in Januarie 1956 aangestel is by ons skool as musiek-onderwyser en koor-afrigter.
Sy speel ook uittreksels uit die 1969 langspeel-plaat van sy koor en maak melding van die 1980 plaat wat daarop gevolg het, kort voor die honderdjarige bestaansjaar-vieringe van die skool.
Omdat hy Koffiekan se loopbaan wenk daardie dag op die skool-poort se trappies gevolg het, is Marius na meer as 4 dekades steeds een van die bekendste en mees suksesvolle prokureurs in Suid-Afrika, met groot korporatiewe klante landswyd. ‘n Absolute spesialis op sy gebied.
“Mache die tore weit, en die türen in der welt hoch...”
Hoor ek weer in my gedagtes die Duitse koor-verwerking van Psalm 24 in ons skoolsaal opklink. Psalm 24 verse 7 - 8 : Hef op julle hoofde, o poorte, ja? verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!
Wie is tog die Erekoning? Die HERE, sterk en geweldig, die HERE geweldig in die stryd.
IJ Blom, Lente 2021
Sien ook my ander storie oor delende musikante by: