Melk en Likkewane (2023 02 20)
Sedert my kinderdae het ek die kontrei-mite oor melk-drinkende slange heel dikwels teëgekom. Dit was dan te vertelle datsekere slang spesies direk uit ‘n koei se spene, nee, eintlik altyd ‘n spesifieke speen, sou drink.
Die storie het dan verder gegaan met die bewering dat koeie wat sò deurgeloop het maklik herken kon word omdat een van die spene “ongesond” en half verskrompeld voorgekom het.
Al my pogings om nader aan die waarheid rondom hierdie vertellings te kom het gelei tot menings deur kundiges dat dit uiters onwaarskynlik is dat ‘n slang aan ‘n koei kon suip weens die ligging van die giftande.
Tòg het ek by meer as een geleentheid by voormalig beeswagters ‘n storie gehoor wat meer aanvaarbaar klink.
“Die slang, nee, maar die slang met die vier pote, Ja” hoor ek vir die eerste keer by Abram wie gedurende sy vele bees-wagter jare baie tyd gehad het vir veld-waarnemings.
Die "vierpotige slang" is ‘n likkewaan, nie die groen rivier-likkewaan nie maar die groter bruin-likkewaan, ook bekend as die veld-likkewaan. Dit word vertel dat hierdie gedugte reptiel kan fluit soos ‘n mens en sy fluit-vernuf inspan om koeie nader te roep, net soos die beeswagtertjies doen as dit melk-tyd is.
Die skurwe-lyf sal dan ‘n koei kies, haar “span” met sy stert sodat sy dink dis die gewone spantou soos gebruik tydens melktyd, en dan rustig staan vir die “maaltyd”. Die likkewaan stut homself met agterpote op die grond en met stert ge-anker om die koei se agterbene lig hy sy voor-lyf en bek op tot by die spene terwyl die voorpote na onder hang.
Stories van likkewane wat eiers uit hoender-hokke steel is ook nie ongewoon nie.
Die skakel hieronder gee toegang tot ‘n kort oog-getuie verslag wat ek eens van ‘n voormalige beeswagter gekry het.
Nota:Om die klank skakel hieronder te hoor op 'n I Phone, gaan na page settings (links onder op skerm) en verander dan "reader view"
Opsomming van Prof. Le Fras Mouton se antwoord op RSG program Hoeverklaar jy dit :
Daar is nie 'n manier dat 'n likkewaan kan fluit soos 'n mens nie, net blaas-geluide is moontlik, ook geen stembande nie
Likkewane en slange kan nie suig nie want hulle het nie dig-sluitende lippe of wye tonge nie.
'n Likkewaan se stert is te styf en sal nie om 'n koei se pote kan draai soos 'n spantou nie
Dis wel bekend dat likkewane eiers eet, Uittreksel uit Prof. Le Fras Mouton van Stellenbosch se antwoord op RSG program "Hoe verklaar jy dit" van 5 Februarie 2023 IJ Blom herfs 2023