Die ontstaan van Pietersburg
Oor kerk-kaping,water-wisseling en bandiet-boulers
Pietersburg / Polokwane is die hoofstad van die Limpopo provinsie en die mees noordelike stad in ons land. In dieNoord-Sotho taal beteken Polokwane “plek van veiligheid.
Het hierdie sentiment dalk iets te make met die tydelike vrylating van gevangenis oor naweke vir doeleindes van krieket? Ook, is daar enige verband tussen Polokwane en 'n stad in Swede?
Hierdie is een van daardie juweel stories wat mens by iemand hoor, dalk ’n paar keer rondom ‘n kampvuur oorvertel maar vir jare nie behoorlik opteken en wyer versprei nie.
In hierdie storie is die persoon wat dit aan my vertel het net so merkwaardig as die storie self. Ek het hom ontmoet in 1985 tydens ‘n Magoebaskloof staptog en die kennismaking later opgevolg deur hom by sy indrukwekkende kweekhuis en orgidee versameling aan huis in Pietersburg te besoek.
Willem Alberts was toe asPatoloog verbonde aan die Mediese Navorsingsraad en het duidelik ook ‘n sagte plek gehad vir ‘n goeie storie.
‘n Week of so na my kuier kry ek in my posbus ‘n handgeskrewe dankiesê brief vir my besoek, en ook ‘n paar getikte bladsye wat die storie oor die ontstaan van Polokwane / Pietersburg / Upsala / Sterkloop / Marabastad bevat. Sy brief(gedateer Dinsdag 26 Februarie 1985) lui:
"Ingeslote 'n uittreksel wat in ons plaaslike publikasie "Wolkberg Blitz” verskyn het wat jou 'n insig sal gee oor die ontstaan van Pietersburg. As jy meer oor die wêreld wil weet, lees gerus die Boek: "By the waters of Letaba” deur "Cartwright". Op Bl. 41 is 'n foto van my oupa Henty Muller.:
Hieronder dan die artikel uit Wolkberg Blitz:
Artikel begin:
Nou hoe heeft deze plek zyn naam gekregen?
My eerste gedagte was dat die naam gekom het van 'n "homesick" Sweed wat hier gewoon het, aangesien die naam "Upsala" dìe is van 'n ou universiteitstad noordwes van Stockholm. Die geskiedenis is as volg:
Na die opruimingsbevel van Schoemansdal op 12 Julie 1876 het kommandant generaal Paul Kruger namens die regering die belofte gedoen dat 'n dorp meer suidelik en veiliger geleë, uitgelê sal word. Hiermee stel Paul Kruger die plek Marabastad aan die Uitvoerende Raad voor. Landros van Nispen het hierdie plek ook as die mees geskikte beskou, aangesien daar alreeds 'n kerk was en die watervoorraad gesond en voldoende was. Oor hierdie einste kerk volg nog 'n amusante verhaal.
Soos met ons stoere ou volkie gewoonlik die geval is was daar natuurlik teenvoorstelle en besware en gevolglik aanmerkbare verdeeldheid onder die burgers. Druk besprekings word gevoer oor die vier plekke in gedrang nl. : Marabastad, Sterkloop, Doornbult en Houtboschdorp. Landrost Ziervogel kom toe met 'n halfpadoplossing ter versoening van die klipdammers en die Marabastatters en stel voor dat die dorp op die plaas Sterkloop aangelê word.
Die tyd om te besluit oor die ligging van ‘n dorp in die Noorde was ongunstig vir Paul Kruger. Daar was oral rasse onlus en hy moes Londen toe om die Pretoria konvensie te laat hersien.
Pieter Joubert word hiermee as waarnemende president aangestel en op 8 Oktober 1883 reis hy noordwaarts om ondersoek in te stel en skryf as volg:
"By aankomst vind ek groote verdeeltheid over die plaats - ik moest beslissen"
Hy besluit toe op Sterkloop. Daar is egter ook ander stories waar Pieter Joubert "voorkeur geven aan die plaats Sterkloop".
Soos reeds genoem had Marabastad toe reeds die kerk, sowel geskikte water. Die Sterklipers het toe 'n plan beraam en volgens my Oupa, 'n Marabastatter, besluit hulle toe om een nag die kerk te steel. Daad by die woord, gaan hulle toe, breek die kerk stuk vir stuk af, laai dit op 'n bokwa, neem dit na Sterkloop en rig die kerk op.
Nou was Boer se kind kwaad, en byna gesels die Sannas. Pieter Joubert moes paai. 'n Hofsaak is aanhangig gemaak, maar weens die feit dat die benoemde landdros sowel die staatsaanklaer by die aangeleentheid betrokke was, moes ander amptenare vanaf Pretoria ontbied word.
Gelukkig was daar geen hofsaak nie en is die sannas weggepak na gelang die humeure bedaar het. Sterkloop behou so sy gesteelde kerk.
Hierdie staaltjie is deur minister Tom Naudè, volksverteenwoordiger van Pietersburg bevestig.
'n Ander storie uit die argief:
dit is deur ou burgers aan my vertel dat, alvorens die volksraad die beslissing sou neem waar die dorp gestig sou word, die waters van Sterkloop en Marabastad vergelyk moes word. Hiervolgens moes veldkornet van Rensburg 'n bottel water vanaf Marabastad en veldkornet du Preez een vanaf Sterkloop na Pretoria neem.
Veldkornet du Preez het gevrees dat die water van Sterkloop nie so goed sou wees as dìe van Marabastad nie. Omdat die meerderheid ten gunste van sterkloop gestem het, en om sodoende latere moeilikheid te voorkom neem hy toe twee bottels saam. Een vol van Sterkloopwater en 'n leë een. Die leë een word toe by Marabastad gevul met die goeie, skoon water.
Aan van Rensburg vertel hy toe dat hy die water onderweg na pretoria wil drink. Uitgeslape, die veldkornet, want onderweg drink hy toe die minder goeie water van Sterkloop. Die uiteinde kan die leser maar self raai.
Die bewering dat Pietersburg na Pieter Venter, die eerste eienaar van die plaas Sterkloop vernoem is, is onjuis en ongegrond. Hierdie plek was gewoonlik deur die burgers aangedui as opsaal wat dan deur volkswoordafleiding of kontaminasie verander is tot "upsal" en uiteindelik die naam gegee is van Upsala.
Kommandant B J Vorster het die benaming "Opsadel" gebruik. Ds Biccard skryf in 'n brief aan die Staatspresiddent " 't huis thans door my bewoond op Sterkloop (Upsala) ons.....".
Upsala was waarskynlik goed bekend. In die staatskoerant van 20- Oktober 1881 lees ons van die benoeming van E van Brandis as posmeester te Upsala en in die Staatskoerant van 23 Mei 1881 lees ons van die offisiële lys van dooies en gewondes van die Marabastad oorlog as "enemy action near Upsala"
In die eerste kaart van Merensky, in 1884 gepubliseer, word Upsala aangetref. Hierdie plek bekend as opsaal, Upsala, Sterkloop, is deur die regering na Pietersburg herdoop as huldeblyk aan kommandant generaal Pieter Joubert.
Om af te sluit, nog 'n grappige verhaal gedurende daardie tydperk. Die eerste betalende goudmyn is in 1881 op Eersteling naby Marabastad ontdek. Gevolglik het daar heelwat ongewensde persone in die kontrei ingetrek en dit bring mee dat die tronk heelwat inwoners gehad het. Die sappier in bevel van die tronk, se hart het week geword vir die armsalig mense en het hulle Vrydaemiddae uitgelaat, op voorwaarde dat hulle voor 12 uur middernag Sondae moes inklok. Die storie gaan verder dat daar dikwels nie genoeg mans vir die krieketspanne te vinde was nie en dat hulle sommer van 'n paar uit die tronk gebruik gemaak het.
Soos dit maar met alger gaan, het van die tronkvoëls kanse geneem en nie betyds opgedaag om weer toegesluit te word nie. Die sappier se geduld was op en toe van hulle weer laat opdaag skree hy deur die traliedeur:
"ek is nou sat en moeg en het lus en sluit julle uit!"
Einde van “Wolkberg Blitz” artikel
IJ Blom Julie 2020
Ander stories:
Van 3 na 5 en terug:
Slot, stut, starter en reverse:
Van bekendes tot bemindes: