Ingeboude veroudering: Huldeblyk aan Lukas
Oor hamervilt, harmonie en haaspastei
‘n Klavierstemmer moet, benewens die stem van klaviere, ook ‘n fyn motoriese werktuigkundige of vakman wees vir die oplos van meganiese klavierskete soos dooie note, krakende pedale of stram klawers.
As klavierstemmer het Pa nie self motor bestuur nie maar sy drywers het hom ook sommer met die herstelwerk van klavier- en traporreltjie binnegoed gehelp.
Een van hierdie drywers was George, wie besonder lief was vir haasvleis.
tydens hulle klavierstem omswerwinge op die ou Wes-Transvaalse platteland het George dikwels stilgehou om ‘n doodgeryde haas op te laai. George sou selfs nie skroom om ‘n haas op of langs die pad te tref en so ‘n ietsie te ete te bewerkstellig nie.
Pa vertel hoe die ou Ford een skemer die pad verlaat en grashalms, stoppels en ander plantmateriaal skrapend hoorbaar onder die bakwerk stroop.
Op sy vraag aan George oor wat aan die gang is was sy antwoord bloot: “haas”
Mettertyd kry George ‘n meer lonende betrekking by ‘n groot vervoermaatskappy as vragmotor bestuurder. Kort hierna begin Lukas, ‘n man met ‘n stil maar denkende geaardheid vir Pa bestuur. Danksy sy veilige en versigtige bestuursvermoë was Lukas en Pa gedurende al die jare(meer as twee dekades)nooit in enige botsing of verkeersoortreding betrokke nie.
Lukas was ook in die ware sin van die woord ‘n klavier tegnikus en baie ervare in die oordoen van klavier binnegoed, veral in gevalle waar rotte of muise die sagte vilt en leergespestjies(deel van die klawer-tot hamer aksie) afgevreet het. Ander vorme van meganiese onderhoud aan klaviere was die gelykmaak van hameroppervlaktes. Dis nou die wit viltoortreksel van hout hamers wat die snare tref met nootdruk. Na jare se speel groef die snare riffeltjies in die vilt en affekteer dit die klank omdat die snare (meestal drie per noot) nie meer eweredig getref word nie.
Hierdie riffeltjies is ook ‘n belangrike wenk vir iemand wat ‘n tweedehandse klavier wil aankoop en ‘n idee probeer vorm van die algehele toestand van die instrument.
Na afloop van so ‘n hamer oordoen aksie sou mens Lukas sien staan aan dìe kant en dan aan daai kant van die aksie om seker te maak al die hamers is presies in lyn en die trefgedeeltes so glad soos dìe van ‘n nuwe klavier. Lukas was, soos George, ook baie lief vir haaspastei en het ook stilgehou vir die oplaai van ‘n dooie haas langs die pad. Tóg het sy sienswyse oor só ‘n meevallertjie vir die pot drasties verskil van George s’n.
Trouens, met sy aanhoor van hoe George die pad sou verlaat om ‘n haas dood te ry is Lukas oorval deur sy kenmerkende amper dubbelvou skaterlag diep uit sy maag.
“Nee man, mens kan mos nie dit doen nie!” beduie hy skreefoog tussen die gelag deur.
Aan my verduidelik hy by geleentheid sy standpunt as volg:
“Jy sien, ek en jou Pa is op die pad om te werk, om geld te verdien sodat ons vir julle, ons kinders kan sorg en kos gee. Op die pad kry ons ander mense reisend om dieselfde rede maar ook diere soos Skilpaaie, paddas,likkewane, slange en ja, dikwels ook hase. Al hierdie wesens is op die pad agter kos aan. Vir al hierdie moet mens probeer uitswaai of ten minste jou bes doen om hulle nie raak te ry nie.
Goed, as een reeds doodgery is kan mens maar stop en dit inlaai vir gebruik in 'n lekker pastei, maar as jy doelbewus ‘n dier doodry vir die pot is die kanse goed dat jy self ook eendag op die pad gaan sterf.”
En só hoor ons op ‘n dag dat George sterwend is aan skedelbreuk na ‘n vragmotorbotsing.
ek, Pa en Lukas gaan groet rondom George se hospitaalbedtwee dae voor sy dood. Na die besoek, op pad kar toe, plaas Lukas sy hand op my skouer en vra:
“Verstaan jy nou die probleem van die haas doodry?”
In die vakgebied van Bedryfsekonomie kry ek jare later te doen met die beginsel van “ingeboude veroudering”of “built-in obsolescence”. Hiervolgensword produkte so ontwerp en vervaardig dat dit bepland gaan onklaar raak en jy weer nuwes moet koop. Op die manier bly die vervaardiger in besigheid. Sonder dat hy ooit blootgestel was aan Bedryfsekonomie, het Lukas hierdie beginsel verstaan.
as ‘n rot-gevrete klavier oorgedoen is, nogal ‘n groot en duur projek, het Pa ter afsluiting, na die aanmekaarsit, staalwol in die gapings onder die klavier se pedale ingedruk. Sodoende versper mens die enigste muis en rot toegangsroete na die klavier se binnegoed.
Lukas se ondeunde opinie hieroor was: Ons doen nou ‘n verkeerde ding. hierdie skuurdraad gaan maak dat ons nie weer so baie geld gaan verdien by hierdie klavier nie.
IJ Blom laat winter 2020
Ander stories:
Van 3 na 5 en terug:
Slot, stut, starter en reverse:
Van bekendes tot bemindes: