Haak hom Blokkies

Haak hom Blokkies!

Soos op 2023 11 28

Oor oornagplekke, ontnugterings en omset

Ek het al dikwels gewonder hoekom, wanneer mens met vakansie gaan, jy bereid is om al die gemak en luukshede van jou eie woning tydelik te verruil vir iets baie vêr en met veel minder gerief en weelde.

My Ouboet het by geleentheid verwys na die konsep “wit lyn terapie”.

Dit beteken dat jy begin ontspan wanneer die langpad se wit strepe as-t ware deur die motor se onderstel ingesluk word en jy ervaar hoe jou omgewing geleidelik verander.

Iets rakende n afwagting, van andersheid, ‘n nuwigheid, plek van isolasie, minder eise, meer bederfies en genoeg rus.

Hoe meer kere jy stop op pad na jou eindbestemming, hoe meer ontspanne is jy alreeds wanneer jy dan jou vakansieplek bereik. Selfs jou oorstoppe vir koffie, pad piekniek of sommer net aansit vir iets by ‘n one-stop of ultra city begin gaandeweg die ervaring bevestig van “nou is ek met vakansie”.

Met die aanhoor van mense se vakansie hoogtepunte is dit, snaaks genoeg, dikwels juis die stop plekke of oornagpunte waar dinge vreemd of nie volgens plan verloop het nie wat die verteller by-bly.

Hier is ‘n oornagplek-storie waar dinge só verbysterend skeefgeloop het, dat ek by nabetragting moes probeer sin maak van alles. Hoe is dit moontlik dat iemand in die toerisme bedryf soms so ‘n gebrek aan insig rondom die reisiger se verwagtinge het?

Die voorval was in die vroeg tagtigerjare, midde in die sogenaamde “brandstof krisis” toe mens net tot ses uur saans kon volmaak en nie meer as 20 liter ekstra brandstof mog saamry nie. Vir verdere besparing is die spoedbeperkings verlaag van 120 na 100 kilometer per uur wat beteken het dat mens veel later by jou oornagplek aangekom het as normaalweg.

Ten spyte van ons bespreking en bevestiging dat iemand ons sal kan inlaat as ons rondom middernag opdaag by die hotel, het dit helaas nie so uitgewerk nie.

En só, na 800km se “wit lyn terapie”, beland ons toe op ‘n grondpad wat, volgens die aanwysings, sou lei na die maklik-misry dorpie “Van Hoekspan” met sy “Haakdoring Hotel”.

Onseker van die omgewing en hoe die hotel lyk, verminder ons toe spoed en besluit om nader ondersoek in te stel na mate die eerste tekens van ‘n moontlike nedersetting in die donkerte voor ons sigbaar raak.

Nà die eerste windpomp is daar ‘n soort oopte langs die pad vanwaar die diep-rooi gloed van ‘n konka-vuur opdoem Drie mans verdryf die koue deur rondom die gloed te sit en kuier.

Soos ons naderkom kyk hulle in ons rigting. Toe ons stilhou , groet en uitvra oor waar die hotel is, gebeur iets wat ons stomslaan: Aldrie kyk vlugtig na mekaar, spring verwilderd regop en slaan op die vlug die nag in.

Hoe dan nou? Mens verwag immers tipiese plattelandse gasvryheid en hulp?

Ten einde ten minste net kop te hou en sin te maak van die omgewing begin ons rondkyk en sien ons toe darem die buitelyn van ‘n soort opstal in die donkerte.

Met naderkruie verlig die kopligte ‘n stoep met trappies asook ‘n houtraam en glas voordeur tussen twee bypassende vensters onder die stoep se sinkdak. Bokant die dak is ‘n soort geuwel waarop net die letters “H a e l” nog sigbaar is van wat seker “Haakdoring Hotel” moes lees.

Regs van die opstal is nog ‘n gebou, ‘n nuwer, amper vierkantige spits-dak struktuur met dik-staaf diefwering voor die vensters. Die deur is dubbel, met skarniere aan weerskante en is beveilig met ’n hangslot veiligheidshek. Eerste indrukke is dat dit ‘n soort winkel is totdat jou oë gewoond genoeg raak aan die donker om die twee woorde “OFF SALES” op die wit muur uit te maak.

Die nagwag, vermoed ons, sal iewers in die “opstal” wees en met druk van die deurklokkie sal hy ons kom ontvang.

Dus op met die twee trappies en, jou waarlik, daar is ‘n elektriese drukknoppie asook een van daardie ou draaiknoppe wat lui soos ‘n fiets klokkie.

Na geen reaksie op enige van die twee nie toets ons die deur in die hoop dat dit bloot ongesluit gelaat is sodat laat gaste kan inkom maar nee, niks van die aard nie. Selfs ‘n amper dringende geklop teen die glas van die voordeur ontlok geen reaksie nie.

Nou maar verder eksploreer.

Links van die opstal is ‘n soort gangetjie wat die gebou skei van ‘n motorhuis of dalk ’n buitegebou.

Hierdie gangetjie neem ons na ‘n binne-hoffie tussen die opstal en wat nou al meer soos ‘n anneks lyk

Op linkerhand is ‘n deur wat, so lyk dit, dalk na kamers kan lei maar alle oop-maak pogings kom tot niks en ons aanvaar gevolglik dit is gesluit.

Dan maar verder sien wat ons flitsligte uit die donker haal. Regoor die geslote deur is nog ‘n deuropening wat, wil jy glo, heeltemal oop staan.

Ons waag dit behoedsaam oor die drumpel en beleef iets soos wat, dink ek, duikers seker moet ervaar as hulle die binneruim van ‘n skeepswrak verken.

Voor ons ontvou ’n half-spokerige toneel van koerant-blaaie op vloer, leë koffiebekers en drankglase, asbakkies met stompies, asook hier en daar lekkergoed-papiertjies. Die reuk van sigaretrook wat in die lug hang bevestig die vermoede dat hier tot redelik onlangs mense aan’t kuier was.

Ons flitse skyn verder die diepte in , verby ‘n soort afskorting en dan val dit aan die binnekant van die glas voordeur waar ons so flussies die klokkie gedruk en so driftig geklop het.

Dan maar omdraai en Net nog een keerr die omgewing verken op soek na die “oopstaane” kamers.

Weer terug in die binnehoffie sien ons vir die eerste keer ‘n telefoonhokkie half ingeprop in die hoek. Nou goed, dink ons, ‘n oproep vanaf hierdie foon na die hotel se ontvangs kan dalk ‘n sluimerende nagwag wakker lui.

Die geel en rooi glasdeur van die hokkie se stramheid gee met oopmaak ‘n olie-smagtende kraakgeluid wat gan-af galm. Binne die hokkie ruik dit na sigaretrook, yster en drukkers-ink van die telefoongidse wat aan ketttings hang. Die slinger van die ou dof-swart instrument bied effens weerstand toe ek dit krink en optimisties die “nommer asseblief” stem aan die anderkant inwag. Al wat ek hoor is ‘n soort suising en kraak-geluide.... geen stem nie. Daarom herhaal ek die proses en spin die slag langer en vinniger aan die slingertjie.

Seker van die deur knars en gekarring aan die foon begin ‘n brakkie verkennend kêf iewers binne die opstal.

“Nou ja toe, laat jy blaf oubaas se honne...” dink ek in die hoop dat dit darem seker iemand sal verwittig van ons aankoms.

Asof in reaksie op my gedagtes raak die blawwery meer dringend, eintlik ietwat histeries.

Sharrap Blokkies!”

Dis die diep krakerige alt-stem van ‘n dame in haar herfs-jare wie ongetwyfeld al in haar lewe met baie nikotien te doen gekry het. Ek besluit daar en dan haar naam moet iets soos “Souf” wees.

Danksy haar “beste vriend” se waksaamheid is Souf nou wakker, bewus van gaste en maak sy reg om ons in te laat... dink ons.

Intussen neem die blawwery erg toe in intensiteit en toe, tot ons verbasing vervolg die kraak-stem met:

“As julle nie nou ent kry met die geraas hierbuite nie bel ek die polisie, hoor julle my?”

Ouboet probeer met sy mooiste stem antwoord:

“Ons is gaste sweetheart, ons wil net weet waar ons kamers is”

“Maar het julle dan nie ore nie? , maak dat julle wegkom of ek laat kom die polisie..”

Lang storie kort, daardie nag bring ons deur in ons slaapsakke, tussen koerante en drank-glase op die mat van die Haakdoring hotel se sitkamervloer nadat ons die deur dig getrek het teen die koue.

Wakker-word geluide die volgende oggend kom van ‘n buitedeur wat iewers oopgemaak word en dan ‘n doenigheid met skottelgoed. Dan is daar ‘n gewoel, min of meer waar ons Blokkies en Souf laasnag gehoor het en uit dieselfde rigting kondig ‘n omroeper wakkerword-liedjies aan via ‘n pas-aangeskakelde transistortjie.

Die sitkamer se buitedeur - die een wat ons gisteraand snoesigheidshalwe toegemaak het – se handvatsel knars.

Ek besluit ek gaan slaap feins en draai op my sy ten einde die vloer tussen my en die deur kan betrag deur skreef-oog. Twee pienk pantoffels trap voor my gesig verby en verdwyn deur ‘n verbindingsdeur wat toeklap tussen ons en die kombuis.

Aan die anderkant van die deur oorval ‘n kort hoes-bui haar en dan, na ‘n laaste keel-skoonmaak vervolg sy heserig met “môre Frans, gaan dit goed?

“Môre Nooi, ja uitgespaar dankie..”

Dan voel dit asof iemand die kombuis se stemme sagter draai want die res van die gesprek klink of dit gedemp agter hande voortgaan.

Vervolgens fluit ‘n ketel, breekgoed klingel van ‘n geroerdery en, na nog gedemte gesels, gaan die deur hier by ons weer oop.

“Goeiemôre mense, hier is vir julle heerlike koffie en beskuit .... rustige nag gehad?” en sy mik met die skinkbord na ‘n tafeljie.

“Ja lekker dankie Sweetheart” kom dit weer van Ouboet

“..and although his Friends called him Blokkies, his wife would call him Joebêr.” kom David Kramer se stem uit die ef-empie langsaan.

“Oe ek is mal oor daardie song... het my Suster in Goodwood gevra om solank die seven single vir my te koop en saam te bring as sy volgende week hier kom kuier.”

en dan verander haar stem na amper ‘n fluistering as een hand heup toe gaan en die ander een aan haar ken torring:

“.. het julle laasnag die lawaai hierbuite gehoor?”

verward kyk ons na mekaar, wonder vir ‘n oomblik oor die spreekwoordelike “olifant in die kamer” en dan antwoord Ouboet weer in sy rustige maar ferm stem:

“Die lawaai was ons, Sweetheart...” en hy vra om verskoning vir ons raserige pogins om uit te vind waar ons kamers sou wees

“Nonsens man , ek kan sien julle is ordentlike mense.. nee ek dink dit was skelms soos die spul hierbuite tekere gegaan het..”

“Lig julle knieë, druk julle drieë, agter die doellyn nou” maak David klaar in die agtergrond.

“Kom saam dan wys ek julle waar is julle kamers, daar is nog tyd vir ‘n lekker bad of stort voor ontbyt.” Sy neem ons na die einste binnehoffie met die foonhokkie en wys dan na die deur wat ons tevergeefs probeer oopmaak het.

“Maar daardie deur is gesluit Sweetheart” probeer Ouboet haar reghelp.

“Nee man, dis seker net ‘n bietjie stram, jy moet dit net so ‘n effens bykom met jou boud..” en sy maak ‘n soort dansbeweging wat haar agterstewe sywaarts teen die deur laat plof sodat dit oopspring.

Binne is ‘n gang met vier dubbbelkamers, elk met eie badkamer.

Opgevars en reg vir ontbyt meld ons toe weer aan by die sitkamer en ‘n jonger dame wat haarself as Mieta voorrstel lei ons na die eetkamer. Dis nou die deel anderkant die afskorting met die glas voordeur as grens.

Links van die voordeur staan ‘n bal-en-pootjie vertoonkas met model karretjies, porselein klomp-skoentjies, inmekaar-pas russiese poppies en ‘n paar silwer atletiek-trofees, klein na groot gerangskik.

Op die poster teen die oorkantste muur drapeer ‘n luiperd kwaai-oog oor ‘n boom-tak en in die hoek beur ‘n olifantoor vanuit ‘n plastiek pot nna die lig.

Vir versiering pronk ‘n paar droë grashalmpies vanuit‘n porseleinhouer in die middel van ons pannelite tafeltjie.

Op ‘n langerige tafel teen die muur staan ‘n glasbeker met vrugtesap, nog een met melk en dan ‘n paar plastiekhouers met weat-bix, graan-vlokkies en rice crispies.

Heel links op die tafel , deel ‘n ketel en toaster ‘n muurprop.

“Koffie of tee?” vra Mieta en sy wys na die muurtafel sodat ons solank vir onsself sap en pap kan kry.

Spek en eiers met ‘n wiggie tamatie, bake-beans en ‘n worsie maak die res van die ontbyt uit. As mens nog dunnerig voel is daar die opsie om self ‘n sny of twee roosterbrood te laat uitskiet vir saam met smeergoed en gerasperde kaas.

Met ons uitstap terug kamers toe begin die rooi en geel hokkie se foon klingel en die deur knars weer oop toe Souf dit antwoord met die woorde:

“Haakdoring hotel goeiemôre?”

So hierdie is die amptelike foon van die hotel? Dit sou ons dus niks gebaat het as ‘n “nommer asseblief” stem wel laasnag opgetel het nie?

Nog meer, as Souf sou uitvoering gee aan haar dreigement om “die polisie te bel”, sou sy moes uitkom om dit van hierdie hokkie af te doen?

“Hallo Sus?.. Dis nou telepatie, ek het net vanoggend van jou geskinner..” beduie sy terwyl sy in ons rigting kyk.

Met “uitboek” betaal ons toe net ‘n fraksie, seker net vir die ontbyt, van die ooreengekome “bed & ontbyt” tarrief.

Toe ons ry staan Souf en Mieta vir ons en wuif op die stoep terwyl Blokkies die trappies afstorm en dreigend in ons rigting begin tandewys, roggel en blaf.

Regs van die stoep is Frans besig om die swaar tralies voor die “off-sales” se deur oop te sluit.

So hier is my verklaring vir die alternatiewe soort gasvryheid wat ons te beurt geval het:

Op sulke plattelandse gehuggies, hoor ek later, is die verkryging van ‘n dranklisensie vir ‘n “off sales” nogal ‘n ingewikkelde proses.

Saam met die lisensie, wil die owerhede blykbaar hê, moet daar ook ‘n soort teen-prestasie van die lisensiehouer wees om ten minste ‘n toerisme-verwante diens te lewer en sò die plaaslike ekonomie aan te wakker.

Die aansoek word daarom dikwels gekoppel aan ‘n restaurant , of dan in hierdie geval, ‘n hotel.

Sodra die dranklisensie in plek is, en wins uit drankverkope die lisensiehouer se hoof inkomste word, kan dit maklik gebeur dat laer-omset diens-lewering aan toeriste in ietwat van ‘n beslommernis ontaard.

En die drie konka-sitters wie so vervaard die nag ingevlug het met ons aankoms?

Jou raaiskoot is so goed soos myne!

IJ Blom herfs 2021 Nog wiele en langpad stories: Ongebruikte verlate bergpas

Ander stories:

Vakansie skeef-loop 2: Postuur en Waarheidsuur

www.bloms.co.za/pen/sit.htm

Springrat:

www.bloms.co.za/pen/rat.htm

Slot, stut, starter en reverse:

www.bloms.co.za/pen/slot.htm

Afrika Kerswens

www.bloms.co.za/pen/wens.htm