‘n Paar gedagtes oor melktert
Soos beskuit speel melktert ‘n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse kultuur. Afhangende van die soort, is dit potensieël een van die vinnigste en maklikste bederfies om voor te berei met bestanddele wat in meeste huise voorkom.
Hoewel geen amptelike standard bestaan vir die beoordeling van melktert nie, het die fynproewer nogtans ‘n idee van hoe die smaak,kleur, tekstuur, styfheid en algehele oog-toeknip lekkerte jou behoort te bekoor.
So is ek dikwels aan die ontvankant van ’n proeseltjie en is telkens so beïndruk dat dit hier op gepaste wyse gedokumenteer moet word.
My neerskryf pogings het my op ‘n verrassende ontdekkingsreis in die wêreld van melktert geneem. ‘n Reis wat my geleer het dat:
enige melktert waarskynlik sal verskyn op ‘n kontinuum van
(heel links) kits melktert - of die sogenaamde yskasweergawe -
na (heel regs) klassiek of oorspronklik.
Laasgenoemde behels byvoorbeeld dat mens eers die kors volgens die sogenaamde "blinde metode" bak en later die vulsel of “pap” byvoeg. Met die "blinde metode" gebruik mens bone om gewig te verleen bo-op waspapier wat die binnekant van die kors uitvoer. Die waspapier word ook vooraf geprik met 'n vurk sodat dit nie oplig of blasies maak tydens die bakproses nie.
Ek het ook geleer dat 27 Februarie die nasionale melktert dag is en dat melktert purist grootliks ooreenstem oor die eienskappe van ‘n waarlik klassieke melktert.
Kom ek begin dus links op die continuum met die nederige, maar tog lekker kitsmelktert.
Hieronder volg ‘n resep vir ‘n produk wat 87% voldoen aan my standaard vir ‘n trots Suid-Afrikaanse kitsmelktert.
Susan Nel se kits Melktert:
Bestanddele:
1 Pak Tennisbeskuitjies
1Blik kondensmelk
3 Blikkies water
3 eiers
4 Eetlepels (Redelik opgehoop) Maizena
1 Teelepel vanilla
Kwart van 'n 500gram margarine
Metode:
1. Gooi kondensmelk in pot en gooi water met dieselfde blikkie in pot
2. Voegdie 3 eiers, margarine, vanilla by
3. Meng tot gesmelt.
4. Sit 4 opgehoopte Maizena by
5. Roer tot, dik
6. Klits die klontjies uit.
7. Gooi oor beskuitjies in bak.
Plaas in yskas om te set voor opdiening
Meer regs op die melktert kontinuum kry mens bogenoemde resep met kaneel en selfs fla toevoegings wat die smaak, kleur en styfheid meer laat neig na die klassieke melktert.
Wanneer jy hierdie tert klaar voorberei het, sit dit voor aan jou gaste terwyl jy die onderstaande ware storie van TanteSouf vertel.
Sy was gedurende die laat negentienhonderds van die Waterfal-Boven omgewing in Mpumalanga en een van die legendariese melktert fyngebak chefs wie nog op haar koolstoof gebak het.
Die verhaal handel oor ‘n unieke roete wat enige melktert ooit in mense heugenis ondergaan het.
Melktert reis:
Soos al die boere destyds, het hulle hoëveld plase gehad en wintersveld in ‘n ander distrik, soms meer as ‘n honderd kilometer daarvandaan.
Die kinders se skole, die besighede en die kerk was natuurlik net naby die hoëveldgrond, ’n soms problematiese toedrag van sake.
Destyds het die vrouens ‘n kerkalmanak agter die badkamerdeur gehad , waarop hulle sawens kyk wie môre verjaar en ook wat môre by die kerk gebeur. So kon hulle dan onthou vir wie en waarvoor daar gebid moet word.
In die tyd toe die Tannie in haar Winterveld opstal(sowat 100km weg van haar kerk) was, lees sy die aand dat dit die volgende dag koekverkoping is en dat die susters die gebak wat hulle belowe het, om elfuur op Tommie Fourie se winkelstoep in Machadodorp moet kom neersit.Effens moeilik vir ‘n vrou wie ‘n melktert belowe het, geen vervoer het nie en boonop ’n vrou van haar woord is. Hoe nou gemaak?
Sy besluit om die volgende oggend vroeg op te staan en die melktert te bak, miskien bring die tyd ‘n oplossing.
En hier was haar afleweringsplan:
Sy het die gebak netjies, so in die pan, in ‘n doek toegebind, vir haar getroue bediende verduidelik wat om te doen en ook ‘n begeleidende brief geskryf.
Hy moes per fiets haas na Elandshoek stasie, sewe myl verder, en alles vir die stasievoorman gee.
Hy, die stasievoorman, moes dit dan oordra aan ‘n stoomtreindrywer wie dit verder sou neem nadat hy die instruksies gelees het.
Die stasievoorman het sy opdrag uitgevoer en so ook die treindrywer. Maar op Waterval Boven draai die drywer terug, iets wat die tannie nie voorsien het nie.
Gelukkig was die drywer seker ook ‘n Christen en hy gee die tert aan nog ’n ander drywer wat verder gaan.
Hierdie ou kom op Machado, waar hy ‘n ( seker ongeskeduleerde?) stop moes maak.
Hy gee die tert en die brief aan die stasievoorman, wie sy kop skud van verbasing en sy bode vra om die pakkie af te dra na Tommie Fourie se winkelstoep.
Om vyf minute voor elf word die tert neergesit en iemand koop dit teen drie sjielings. Hierdie melktert het deur die hande van ten minste sewe mense, oor meer as honderd kilometer, per fiets, per hand en in veskeie warm stoomlokomotief deur twee treintonnels gereis om betyds by die bestemming aan te kom.
Dit is vir my ‘n voorbeeld van geloof, deursettingsvermoë, betroubaarheid en nog ‘n hele aantal ander goeie eienskappe waaraan ek nou nie eers kan dink nie.
Soos oorgelewer deur Oom Faan Venter van Baberton.
IJ Blom Winter 2020