Is so iets vandag moontlik?
Hierdie storie is vir almal wat op ‘n plattelandse dorpie grootgeword het in die sestig en sewentigerjare. Mense wat nog kan onthou van slinger telephone, opwen horlosies, aanskroef trapfiets lisensieplaatjies en vuurhoutjieboksies van hout.
Ek vermoed die hoogtepunte op die klein dorpie sosiale kalender wat ek in hierdie vertelling deel sal aangename”goeie ou dae” herinneringe wakkermaak.
Tog was daar een voorval wat my tot vandag toe nog laat wonder of my tuisdorp nie dalk ‘n uitsondering was nie. het iemand dit nie straks reggekry om die gehoor van ‘n stampvol stadsaal, kompleet met ekstra ingedrade stoele in die paadjies,om die bos te lei nie?
As agtergrond tot my relaas lys ek hieronder die jaarlikse klein dorpie kalender bakens, eintlik ook herinneringe uit my kinderdae wat uitstaan,soos afgespeel in die hierbo genoemde tydvenster.
Een van hierdie geheuebakens was gereëlde besoeke aan die dorpsbiblioteek waar ons jongklomp ure se leespret geput het uit jeugreekse soos “Jasper; Trompie; Die Uile; Saartjie” en later selfs “The Hardy Boys” en ander Engelse lekkerlees boekies .
Betreffende gebeurtenisse waarna mens kon uitsien was daar die weeklikse parade van die hoërskool se kadette met hulle “marching band”, die Saterdagaand fliek in die stadsaal, somermiddae by die munisipale swembad in die middedorp en dan ander, meer sporadies gebeurtenisse soos ‘n opvoering deur die dorp se dramavereniging of skooloperette.
Dan was daar ook die keer toe ons besoek gekryhet van een of ander toerende bultende spiergesin wie hulle kragte ten toon stel deur verskeie voertuie te ”benchpress” of voorwaarts kruip-sleep met ‘n sort eup harnas.
Jaarliks was daar ook verskeie speelgoed giere soos topgooi, albasters of klimtol (yo-yo) en “ding bat”.
Die klimtolle en “ding bats” was gewoonlik in rooi, groen of oranje om handelsmerk inprenting oor die bekendste gaskoeldranke by kinders te bewerkstellig.
‘n “ding bat” was ’n klein rakket, omtrent die grootte van ‘n tafeltennis rakket en was deur middle van ‘n meterlange dun rekkie aan ‘n rubber balletjie (ook omtrent so groot soos ‘n tafeltennisballetjie) verbind.
Vir die klimtol was daar selfs ekstra toutjies by enige kafee beskikbaar en vir die “ding bat” ekstra rekkies en balletjies.
Sodra die gier alledaags begin word het op speelterreine sou ‘n besoekende Amerikaanse “meester van die kuns” op ‘n dag tydens skoolpouse ‘n demonstrasie kom gee van ‘n dosyn of so toertjies. So ‘n vertoning was aangebied met die oortuigende boodskap dat dit binne alle toeskouers se vermoë is om die toertjies in te oefen en munt te slaan uit die spogwaarde daarvan.
Dit kon wissel van “rock the cradle”, “walking the dog”, “around the world”, “loop the loop”, tot meer gevorderde kragtoere soos die vang van ‘n klimtol met jou baadjie se binnesak nadat jy, terwyl dit spin, ‘n buitelyn van die eifel toring vleg met die toutjie.
Soms wonder ek of die onderwys owerhede van die tyd hierdie sort toertjie illustrasies in skooltyd maar goedgekeur het in belang van die ontwikkeling van fyn motoriëse vaardighede by kinders.
Die “Amerikaanse meester” met sy rooi baadjie en paljastende hande se verbysterende toertjie illustrasie was dan opgevolg deur die aankondiging van ‘n kompetisiedatum. By dìe geleentheid kon ywerige nadoenertjies (maar ook net diesulkes wat die eliminasietoertjies reg kon doen) dit uitspook vir wenstatus.
Eerste prys sal dan iets wees soos ‘n gehandelsmerkte koelhouer, tweede prys iets soos ‘n pet en derde prys ‘n kas koeldranke.
Ander klein dorpie Jaarlikse kalenderitems was natuurlik die skole-atletiek, rugby of netball/korfball toernooie, kerkbasaars, landbouskou, lenteloop en besoek van die mallemeule en sirkus. Laasgenoemde twee het meestal die oop veld onderkant die stasie as opslaanplek gehad omdat baie van die toerusting destyds per spoor vervoer was. Laat ek eers stilstaan by die sirkus:
Die Sirkus
Eerste pouse op skool bottelnek ons die klaskamer se deurkoesyn vir eerste plek op die speelgrond om te sien hoeveel van die sirkustent al opgeslaan is doer bo op die koppie naby die stasie. Dan was dit gewoonlik net die twee pale met ankertoue en veel beweging van hokvoertuie. Tweede pouse staan die tent al , kompleet met wuiwende flaggies aan die ankertoue en ‘n groot banier met die letters “Boswell Wilkie circus” tussen die ankerpale gespan.
Na skool weet ons dat die pawiljoen-tipe opslaan sitplekke reeds in ’n halfmaan rondom die ring area gereed sal wees. Mens sou kon inloer, selfs die tent binnegaan en, te midde van die mengelgeure van seil, vlastoue, grond, gras en dieremis die wonder in wording ervaar. Selfs akrobate en sweefartiste sou blink gespierd help om ‘n paar laaste tou ankers in te hamer.
Die besigtiging van die diere in hulle sleepwa-hokke in die daglig is net so opwindend as om hulle vertoning die aand in die tent te sien. Met ‘n bietjie geluk sou mens selfs daardie middag een van die tiekies of narre in die dorp aantref in 'n hardeware winkel ofkoperasie. Party ander winkels (soos Oom Fuch se Apollo klerewinkel) het lankal die aankoms van die sirkus verkondig deur plakkate aan die binnekant van hulle vertoonvenster te heg. Die skewe-glimlag nar wie op so 'n plakkaat pryk, se gesigsuitdrukking word al hoe snaakser namate die karton mettertyd duikies kry en plek-plek wegbult van die venster wanneer die genadelose wes-transvaalse middagson dit looi.
Elke sirkusvertoning op ons dorp was uitverkoop en gevul tot kapasiteit. Dit het gewoonlik begin met uitdoof van ligte en aanskakel van kolligte op die ring, (op hierdie punt kon mens die kragopwekkers buite duidelik hoor swaartrek) gevolg deur ‘n afwagting-skeppende dromrol en van iewers ‘n uitgelate vreemde aksent stem wat aankondig:
“Lllllladies and gentlemennnnnn…… Welcome to the greatest show on earth… The Boswelllll Wilkie Circussssss!”
Die dromrol eindig dan in’n gelyktydige drom en simbaalslag en direk daarna die helder klanke van die blaasorkes bokant die “indraftonnel” van die ring.
Die ouditiewe opwinding geskep deur die opgewekte musiek word dan aangevuil deur die visuele toevoeging van fraai kopswaaiende sneeuwit lipezaner perde wat die ring binnegallop met knikkende pluime op die kop, soms met ‘n regop-staande en bolomakiesie-slanende nar op die rug. Elke waagstuk van die nar word beklemtoon deur ‘n drom en simbaalslag midde-in die deuntjie.
Skielik gaan staan die lipizaners in ‘n sort half-sywaartse formasie, amper asof hulle buig vir die gehoor en dan doen die orkes ‘n “sting” (dromrol en koperblaas akkoord) wat aandui dat die item verby is en handeklap nou van pas is.
Die wegvoer na die wonderwêreld van verbeelding en onuitputlike moontlikhede word dan voortgesit deur verskeie toertjies en visuele kwinkslae van narre met eenwiel fietsies op gespanne kabels terwyl hulle hande vele kegels soos ‘n groeiende rookkollom lugwaarts laat biggel en weer terugkwyn.
Maar die spanning bou geleidelik op wanneer die gespierdes met segment van staalpallesades die ring binnedraf en in ‘omeseintjie ‘n sort ronde hok bou vir die olifant, swart luiperd en leeu vertoning.
Terwyl die kunstruksie in wording is daal daar ’n wuiwende en skynbaar hardlopend-in-die-lug skamel geklede vrou van bo en swaai ‘n paar keer rondom die ring aan die punt van ‘n tou wat aan haar dik swart haredos geheg is. Hoewel ek seker was dis ‘n lewende wese en nie ‘n pop nie is dit dalk die moeite werd om vir eens en altyd net by ‘n neuro-chirurg, kopvel- en gesigspesialis of kulkunstenaar vas te stel hoe so iets fisies moontlik is.
‘n meisie in ‘n flamrooi bikini sou plotseling afstorm op ‘n kannon wat intussen langs die ring verskyn het, kop eerste by die bek van die loop inseil en dan, na ‘n hhengse knal, verskuif die kollig na ‘n groot basdrom doer bo naby die nok van die tent. Gou verskyn ‘n gat in een van die lapsye van die drom en dieselfde kanonmeisie ruspe haarself vanuit die drom, seil af teen ‘n tou en doen dan glimlaggend ‘n seëvierende wydstaan en hande in die lug posisie met grondvat.
Net voordat die laaste palisade van die ring in plek geplaas word ontsnap daar ‘n hande-viervoet aanstormende Guerilla deur die gaping en skarrel soos blits tandwysend iewers tussen die gehoor optot groot konsternasie en onsteltenis.
Dit neem ’n wyle om te besef dis maar net een van die narre vermom in ‘n guerilla mondering.
Met die ring veilig val die kollig op die sweepklappende leeutemmer met sy katte wat elkeen ietwat teësinnig stelling inneem op ‘n sort stallasie.
oopbek en tandewysend heen en weer kopskuddend en stertswiepend grom hulle vir die temmer maar doen tog die toertjies wat hy gebbied.
Die ring kry vervolgens ‘n reuse vangnet en soepel-lyf sweefartiste slang op teen toulere na hulle onderskeie tent plafon posisies. Hier weet ek is geen gekullery nie, net perfekte tydsberekening en waarskynlik jare en jare se oefening en kameraadsverdtroue.
Dekades later sou ek ‘n toerende vertoning van die wêreldbekende Moskou surkus bywoon en dit was verseker nie vir my meer skouspelagtig as ons dorpsirkus nie.
Saterdagaand fliek in die stadsaal:
Oom George huur die stadsaal op Saterdag aande en hy het hand nodig vir elke vertoning se voorbereiding en opruim. Sy seun, ek en ‘n paar maats begin hom help in ruil vir gratis fliek bywoning. Deel van my werk is om twee houtkissies met leë koeldrankbottels op mekaar te pak en by die portugees se kafee oorkant die laerskool om te ruil vir volles. Ja, voor plastiek koeldrankbottels was ons in daardie jare baie meer omgewingsvriendelik met herbruikbare koeldrank- en melkbottels van glas.
Behalwe die af- en oprol van die silwerdoek wat bokant die stadsaal se verhoog gemonteer is vergesel ek soms Oom George stasie toe om die groot 35mm filmrolle in ploegskaar grootte ronde bliktrommels met leer gespes te gaan afhaal. Ander werkies was toegangskaartjies skeur en “pass outs” uitdeel tydens pouse.
Terwyl mens wag vir die fliek borrel daar boeremusiek uit die skerm luidsprekers, aangedryf deur ‘n tol bandmasjientjie wat langs die amper perd-grootte projectors in die stadsaal se solderkamertjie staan.
Daar is ‘n aparte handgedrewe skyfprojektor wat die name en kontaknommers van sake ondernemings op die dorp soos rona apteek vir ‘n paar sekondes vertoon.
Hierna kom die groot rolprentprojektor aan die beurt en moet mens eers die kragbron (amper ‘n soort sweismasjien) aanskakel en dan ‘n slingerwiel draai om twee koolstof stawe te laat kortsluit. Dit het met ‘n enorme elektriese knars gepaard gegaan en die vlam of konstante vonk wat so ontstaan het was die ligbron.
Eerstens was monochrome voorprente(of “cartoons”) aan die beurt en dan die SA spiël. Laasgenoemde was ‘n sort aktuele”onlangs nuusgebeure” voorprent met ‘n lughawe en vliegtuigmotief,beginnende met ihqkletterende letterwissel aankondigingsbord , tweetalige voordrag deur Roelf Jacobs en Malcom gooding en soms Paddy O- Burne
In lyn met die vliegtuigmotief het die landing van ‘n privaatstraler dan ’n bekende sigaret advertensie voorafgegaan, kompleet met uitgelate afhuppelende modelle teen die straler se trapreeling. ‘n Witgeklede jongman met ‘n laggende model-loop blondine aan elke sy. ‘n Slim ontwerpte sigaret advertensie waarvan die deuintjie in die agtergrond ooreenstem met die S A Spiël kenwysie. Die ongesproke boodskap is: “Rook hierdie sigaret en geniet ‘n soortgelyke leefstyl”
Net voor pouse, aangekondig deur die groot letters INTERMISSION op die skerm, was daar ”forthcoming attractions” en gewoonlik ‘n kort vervolg voorprent wat onverwags eindig op ‘n kritiese oomblik en so fliekgangers aanmoedig om terug te kom vir die opvolg.
Tydens pouse borrel die boeremusiek vanaf die draaiende tolle van Oom George se bandmasjientjie weer voort. In die voorportaal smous Tannie Hester koeldranke, sjokolade en chips, maar om daar te kom moet fliekgangers eers ‘n “pass out” kaartjie by die deur kry wat mens moet teruggee na pouse. Dis nou om te verhoed dat niefliekbetalers tydens pouse inglip en die hoofprent kyk sonder om te betaal.
Oom George het soms bemarkings veldtogte geloods vir spesiale rolprente soos “Tarzan of the Apes”, die gewilde Elvis musicals en veral nuwe Afrikaanse vrystellings soos “Die Banneling” , “Die Geheim van Nantes”, of ”Staal Burger”.
So ‘n bemarkingsveldtog sou dan meer fliekplakkate insluit asook ‘n dorpswye kruis en dwarsparade van Oom George se Mini Cooper met luidsprekers op die dak. Vir baie spesiale flieks sou van ons seuns met ons selfgeboude draadkarre( met sunbeam stoep politoerblikkies vir wiele) ‘n prosessie vorm agter dieMini.
Dit was gewoonlik die mooiste en grootste draadkarre heel voor en dan al hoe kleiner, skewer en onbeduidend tot by die wat duidelik nog lendelam n in wording is. Heel agter sou ‘n baster hond of twee soms inval en kromstert omhoog saamsnuffel.
“Vonond un duu stodsol us dor uhvurtonung von “Torzon ond the uips”
sou Oom George met lippe styf teen ’n koperkleurige krulkoord kloumikrofoon aankondig.
“Torzon und thu uips! Mut dut nuu musloop nu!”
‘n straatblok of so verder sou hy die boodskap herhaal en soms sou mens dit hoor terugeggo van die graansuiers se kant af doer bo by die stasie.
Maar daar was ‘n dag toe Oom George se mobiele afkondigings Mini bemarkingsprosessie ingespan was vir iets wat niks met die filmbedryf te doen gehad het nie.
Dit was ‘n dag toe die gewone draadkargevolg agter die mini die langste en mees indrukwekkendste ooit was,’n parade amper soos vlotte tydens ‘n jooloptog.
Hierdie keer was die bestek en lengte van die draadkar versameling agter die mini verdubbel met die toevoeging van Pottie se karre direk agter die Mini.
Pottie was ‘n ou-jonkêrel wie draadkarre gebou het vir ‘n stokperdjie. Nie van politoerblikke en bloudraad soos ons seuns se draadkarre (wat eintlik maar net onderstelle met stuurmeganisme was nie) maar groot karre met bakwerk van plastiek triomf kunsmussakke, waarop keurig geskilderde uitbeeldings van ligte, rooster, deurhandvatsels en vensters amper lewensgetrou was.
Die onsigbare binne raamwerk en onderstel was van gesweisde staal , ook bekend as “droppers” in die heiningspan bedryf.
Pottie se karre kon tot ‘n meter hoog staan en het rubberband prêm speekwiele gehad asook gladgeskuurde en gepoleerde handvatsels vir die stoot-stuurwiel. Agter die stuur van enige van Pottie se skeppings, ervaar jy ‘n grasiuse wiegende, amper regte kar pragstuk onder jou bevel. enige seun se droom!
Pottie sou dan ook by geleentheid seuns toelaat om van sy skeppings te toetsbestuur en dan sou hy heel voor met ‘n vlagskip model straat af stuur terwyl seuns in gelid glimlaggend agter hom inval met die res van sy versameling pronkstukke.
Die groot dag
Op hierdie dag, die dag waaroor my storie eintlik gaan, was dit so,
die Mini heel voor, dan ‘n gekruisbande Omie onder ‘n slaprand hoed en luiend skoolklok in die hand,
gevolglik Pottie agter ‘n bewielde kunswerk, dan drie of vier seuns met Pottie-skeppings, dan draadkarre in rangorde van mooiheid en voltooiing.
Heel agter sommer net ’n meestappende mengsel van mens en dier wat vreugde put uit deelwees van die karnaval-atmosfeer.
Waar ‘n fliekplakkaat gewoonlik sou pryk op die luidsprekerstaander bokant die Mini se dak, was daar op dìe Saterdag ’n groot banier wat glimlaggende gesigte van twee jong mans uitbeeld.
Hierdie grootse gebeurtenis was ook, net soos die jaarlikse sirkus al vir weke bekendgemaak op winkelvensters.
“Vonond un du stodsol”
eggo Oom George se stem uit die kegel luidsprekers
“sung Groep twee un leuwende luiwe!”
Groep 2, die gewilde manne sangpaar wie se liedjies soos
“Daar is niks soos ware liefde”, ”
Oukraal liedjie”,
”Die padda wou gaan opsit by sy nooi in die vlei, ha-hum..”
Liejies wat ‘n nuwe wending in oorspronklike Afrikaanse musiek begin inlui het.
Nog meer as tydens die vertoning van enige treffer fliek bars die stadsaal die aand uit sy nate en daar is ‘n geskarrel om ekstra stoele in te dra .
Vanuit die gehoor kom ‘n ruising van opgewonde geklets terwyl dieselfde fliek boeremusiek deuntjies uit Oom George se bandmasjientjie van iewers af net-net hoorbaar is.
Af en toe roer die verhoog se swaar fluweelgordyn effens en deur die klein spasie tussen die verhoog se plankvloer en die gordyn se ondersoom sien mens soms ‘n skoensool teen die agtergrond skynsel van veelkleurige verhoogligte.
Van agter die gordyn kom skielik ‘n onverwagse maar kortstondige skril kringfluit gevolg deur ‘n, eers gedempte maar dan geleidelik duidelikwordende
“testing, testing…..
one two, one, one, one,
t t ts ts
tsT” s
Dan Dromme wat t t t dish” en dan een” tonk” vanaf ‘n baskitaar.
Met die geselsgeruis van die gehoor merkbaar aan die afneem is daar nou ‘n duidelik hoorbare:
“A one,a- two, a-one two three four..”
en dan wel daar ‘n onbeskryflike mengsel van melodie,ritme, akkoorde en harmonie op agter die wyer oopganende fluweelgordyn.
Reënboog Verhoogligte weerkaats blitsend vanaf kitare en blinkerbaadjies en dan val die kollig op ‘n man met ‘n Elvis-haarstyl en ‘n elektriese kitaar aan ‘n nekband.
Terwyl hy koninklik wuif nader hy ‘n mikrofoon op ‘n stander, vat die kitaar vas met altwee hande en kry ‘n dromerige uitdrukking op sy gesig as sy stem die mikrofoon bereik met die goed gemoduleerde woorde:
“When I was just a little boy, I asked my mother, what will I be…..?”
Geen vrydagmiddag marsjerende kadette orkes, geen sirkus blaasorkes, of selfs nie eens die klanke uit die president kafee se juke box kon naastenby ewenaar wat ons hier reg voor ons ervaar nie. Dis ’n loutere lewendige modern musiek orkes!
Toe die”laaste “ce sera, sera” wegsterf gevolg deur luide applous en ‘n buiging deur die sanger, wuif hy weer, die slag na agter hom en kondig aan:
“Dames en here, op perkussie: Dawie Derksen!”
en Dawie doen ‘n kort dromrol en simbaalpunt. Die spreker klap hande en die uitgelate gehoor volg huiwerend met die applous.
“Op baskitaar,Die bekende Lee-Roy!”en die baskitaar tonk vier keer en eindig saam metnog ‘n dromrol van Dawie.
Nou is die applous spontaan asof die gehoor snap dat dit is hoe dit werk.
“Op clavier, akkordion en orrel, al die pad uit Germiston,U het hom al gehoor op radio,”
en die slag wuif hy met ‘n ekstra groot boog,
“Menthis Matheeeeeee!”
Nou is die applous dawerend terwyl Menthis kortliks hervat met die deuntjie agter “will I be handsome, will I be rich”
Ook Eddie op ritme kitaar word soortgelyk vermeld en dan sluit die sanger af met die woorde:
“En vir dìe van U wat my nie ken nie, ek is Elmo Tortino, U gasheer saam met hierdie wonderlike musikante vir die eerste deel van vannaand se konsert.
So sit terug, ontspan en geniet die aand!”
En so, met die hoop en wete dat ons wel later groep 2 gaan beleef, geniet ons die voorprogram, deurspek met bekende liedjies afgewissel met grappies en kwinkslae tot groot vermaak van die gehoor.
“Dames en Here, U is ‘n wonderlike gehoor, ons het nou ‘n pouse vir 30 minute waartydens U iets te drinke kan kry in die voorportaal en dan is dit die twee Grotes!”
Hy tree terug, die gordyn skuif toe en Oom George se boeremusiek word weer hoorbaar.
Dieselfde “pass outs” wat gebruik word tydens flieks word uitgedeel en Tannie Hester verkoop haar fliek koeldranke, tjips en sjokolade in die beknopte voorportaal.
Na pouse heers ‘n soortgelyke afwagting in die gepakte saal en weer word almal aangenaam verras deur die pragtige musiek wanneer die gordyn oopskuif.
Weer is Elmo aan die word en na sy eerste lied kondig hy aan dat Groep 2 net effens opgehou is deur ‘n onvoorsienigheid en dat hulle binnekort almal gaan vergas met hulle bekende liedjies.
Na nog ‘n paar liedjies en staaltjies gaan die gordyn weer toe en ‘n vreemde paar minute van ongemak volg.
Sonder sy kitaar, maar met mikrofoon in die hand verskyn Elmo deur die gordyn gleuf en kondig aan:
“Dames en Here,ons het pas teleurstellende nuus verneem:
Groep 2 was ‘n paar minute gelede net buite die dorp op die Krugersdorp pad in ‘n ligte botsing betrokke.”
‘n Hoorbare ooooh gaan deur die gehoor.
” Gelukkig het hulle net geringe beserings opgedoen en kry op die oomblik mediese behandeling.
Ons is regtig jammer hieroor maar, as dit reg is met U, gaan ons graag voort om die aand vir U onvergeetlik te maak.”
Hy verdwyn weer deur die gleuf onder kollig dowing en toe kom die
“a one, two, one two three four”weer..
Hierdie keer trek Elmo weg in ‘n duette saam met Menthis (wie nou ook ‘n mikrofoon het) en sing jou waarlik Group 2 se :
” Ou kraal liedjie”, toe
“Daar in Potchefstroom, staan ‘n mooi ou eikeboom”
en dan begin hulle delf in ou bekendes soos ”Blue Spanish eyes”.
Maar toe die atmosfeer nostalgies raak en ‘n stadiger liedjie beginnende met die woorde:
“The old old town looked the same,
as I stepped down from the train..”,
dawer ‘n onverwagse applous en gefluit vanuit die gehoor. “Thank you … ... down the road I looked and there was Mary. . …”
en Nog applous en nog ‘n “thank you”
“..and lips like cherries”
Toe Elmo eindig met 'n uitgerekte "hommmmmmme" van die laaste strofe laat Dawie die dromme ekstra lank rol en rol terwyl Menthis se orrelklanke weg en terug golf
. Intussen borduurElmo se kitaar dartelende afsluit improvisasies wat onmiskenbaar neig na 'n dawerende crescendo en finale simbaalpunt.
Die milde applous is eg, vol entoesiasme enhou aan en aan ten spyte van Elmo se herhaalde "thank you" Flietende stilte, dan
Thank you!"
en dan 'n dawerende applous met krete en gefluit en voetestamp vanuit die gehoor.
Elmo buig en buig en kondig toe aan:
“Vriende , soos ek netnou gesê het, U is werklik ‘n wonderlike gehoor en vir ons laaste lied gaan ek U vra om saam te sing! Ek begin die lied en dan wys ek wanneer julle moet saamsing.”
Maar die lang inleiding vir die liedjie gee die geheim weg en voordat Elmo begin sing, klap die gehoor ritmies saam tot by die deel waar elmo die bekende frase eindig met:
“.. jy ou ryperd van my..” en hy wys gehoor toe…
“Jippie jippie jip, Jippie jippie jip ou pê-hêrd!”
Dreunsang dit in die stadsaal en toe is die res van die lied eintlik maar ‘n massakoor saam met die Groep twee voorprogram kunstenaars.
In 2019 vermoed ek, net een van Groep 2 se eertydse sangers is nog met ons. Ek sou nou, ‘n goeie halfeeu later so graag by hom wou hoor of hy enigsins iets kan onthou van ‘n beplande Groep 2 konsert op ons dorp wat ter elfder ure gekanselleer moes word.
Indien hy so iets kan onthou, hoop ek hierdie storie bevestig maar weer die ou bekende slagspreuk in die vermaaklikheidswêreld:
“the show must go on!”.
IJ Blom laat somer 2019
Ander stories:
Afrika Kerswens:
Slot, stut, starter en reverse:
'n Paar gedagtes oor melktert